Rugby
Cheetahs gereed vir ‘kwarteindstryd’ teen Griekwas─── MORGAN PIEK 08:01 Thu, 08 May 2025

Die Toyota Cheetahs sal Saterdag se belangrike SA Beker-buurstryd teen die Suzuki Griekwas in Kimberley soos ’n kwarteindstryd benader, en hulle is slaggereed vir die uitdaging wat wink.
Hoewel die Cheetahs sowel as die Poubloues reeds hul plekke in die halfeindstryd van die reeks bespreek het, is daar immers meer as net spogregte op die spel.
Marco Janse van Vuren. Photo: Morgan Piek
Die Cheetahs het steeds ’n buitekans om ’n tuishalfeindstryd te verseker, maar hulle weet dat die verdedigende kampioene dit moeilik sal prysgee.
Die Cheetahs se buitesenter, Marco Janse van Vuren, het aan OFM Sport gesê hulle is gereed vir die Kwaste. “Ek voel dat die afgelope paar weke se opbou tot die Griekwas-wedstryd wys dat ons op ’n goeie plek is,” het Janse van Vuren gesê, wat op senter of as skrumskakel ingespan kan word.
“Ons hanteer dit soos ’n kwarteindstryd, so ons sien baie uit. Ek dink dit is ’n goeie opbou. Die kans dat ons hulle volgende week weer gaan speel, is goed, so ons sien uit daarna.”
Janse van Vuren, wat voorheen ook vir die Bulle uitgedraf het, is van mening dat die span oor die afgelope paar weke begin het om goed saam te speel en dat hulle stadig maar seker op dreef kom met hul spel.
“Honderd persent. Ek voel ons kombinasies en goeters is nou meer gemaklik met mekaar, en soos jy sê, dis vir ons ’n goeie opbou. Ons het nou lekker momentum, en ek voel ja, die span werk week in en week uit hard.
“Elke ou bring sy kant, begin mekaar aan te voel, verstaan mekaar en werk vir mekaar. Ons is op ’n goeie plek saam as spelers en kombinasies.”
Marco Janse van Vuren. Photo: Morgan Piek
Die veelsydige speler sê hy is gemaklik op buitesenter, al is dit ’n posisie waarin ’n speler met tyd en speelkans beter word. Hy geniet egter die uitdaging.
“Dit is maar moeilik, want dertien is ’n moeilike posisie. ’n Ou kort speelkans om gemaklik te raak met besluitneming – op verdediging én aanval – maar ek geniet dit ongelooflik baie.”
Saterdag se groot buurstryd tussen die verdedigende kampioene en die Cheetahs by die Suzuki-stadion in Kimberley skop om 15:00 af.