Rugby
Woelige Ramon slaggereed vir eerste Cheetahs-wedstryd─── MORGAN PIEK 07:56 Fri, 04 Jul 2025

Die woelige jong Shimlas-flank, Ramon Uys, is opgewonde en slaggereed om Vrydag vir die eerste keer in ’n Toyota Cheetahs-trui te speel.
Uys sal in die Curriebeker-oefenwedstryd teen die Suzuki Griekwas in Bultfontein speelkans kry.
Hy is die jonger broer van die Cheetahs se nommer sewe-flank, Pierre Uys, wat ongelukkig weens ’n liesbesering nie sal speel nie.
Ramon het aan OFM Sport gesê dit het alles baie vinnig gebeur. “Nee, ek’s baie opgewonde vir die geleentheid,” het Ramon gesê.
Ramon Uys. Photo: Catherine Kotze/ ASEM Engage
“Ek stres ’n bietjie, want natuurlik is dit professioneel en dis teen die Griekwas, en die vorige twee wedstryde het die Cheetahs net-net verloor.
“Die Griekwas is baie goed, en die ouens is groter en sterker. So ek stres ’n bietjie, maar ek sien baie uit.”
Ramon sê ook hoewel sy broer nie Vrydag in aksie sal wees nie, bly dit tog die droom dat hulle eendag saam op die veld sal draf vir die Vrystaat. “Dis altyd die doelwit, of die droom, sal ek sê.
“Maar ek het nooit gedink dit gaan gebeur, en veral nie so vinnig nie, want hy’t ook eers verlede jaar by die Cheetahs aangesluit. So, die droom is om eendag as ses en sewe saam te speel.”
Uys was vroeër vanjaar in aanmerking vir die Varsitybeker Speler van die Jaar-eerbewys.
Pierre, wat die Shimlas in 2024 na die Varsitybeker-titel gelei het en onlangs sy kontrak met die span verleng het, het op sy beurt aan OFM Sport gesê dis altyd ’n voorreg om vir die Cheetahs te speel – en om sy broer ook in die span te hê, maak dit nóg beter.
Pierre Uys. Foto: Morgan Piek
“Dit is vir my eerstens ’n groot voorreg om die Cheetahs-trui aan te trek. Die afgelope jaar wat ek by die Cheetahs was, het ek as persoon en as speler baie gegroei.
“Ek sien baie uit na die Curriebeker wat voorlê. Ons as ’n span oefen hard, en die afrigters druk ons. My doelwit is om elke dag beter te word as ’n rugbyspeler, en deur dit my beste vir die span te gee.
“Dit was nog altyd ’n droom vir my en Ramon om saam te speel, êrens in rugby. Dit was vir ons albei lekker die afgelope tyd om saam oefening toe te ry.
Ntokozo Makhaza. Foto: Morgan Piek
“Ons druk mekaar om beter te raak by elke oefensessie – en dit is wat ’n mens beter maak, elke dag, op die ou end.”
Nog ’n paar jong latte sal Vrydag in aksie wees. Hulle sluit in die Varsitybeker Speler van die Jaar, Ntokozo Mahkaza (vleuel), Ben Pitout (vaskopstut), Sasko Ndlovu (flank) en Malcolm Lamondt (loskopstut).
Vrydag se kragmeting by Carpe Diem Park in Bultfontein skop om 13:00 af.
Cheetahs – Cameron Dawson, Marko Janse van Rensburg, Frankie Dos Reis, Pieter Janse van Vuren, Victor Sekekete, Gideon van der Merwe, Sisonke Vumazonke, Neels Volschenck, Rewan Kruger, George Lourens, Banie Britz, Ali Mgijima, Marco Jansen van Vuren, Prince Nkabinde, Cohen Jasper, Vernon Paulo, Hencus van Wyk, Ben Pitout, Thabang Mahlasi, Sasko Ndlovu, Ramon Uys, Daniel Maartens, Jandré Nel, Ethan Wentzel, Ntokozo Makhaza, Carel-Jan Coetzee, Raegan Oranje, Clayton Blommetjies, Malcolm Lamondt
Griekwas – Leon Lyons, Eddie Davids, Corne Lavagna, Ntobeko Shezi, Johan Louw, Gustav du Rand, Tiaan Lange, Dandré Delport, Athi Khethani, Albert Liebenberg, Derik Pretorius, Jac van der Walt, Lourens Oosthuizen, Phumzile Maqondwana, Marco de Witt, Carl Els, Gustav Erlank, Bobby Alexander, Caleb Abrahams, Tylor Sefoor, George Whitehead, Gurswin Wehr, Sibongile Novuka, Dylan Maart, Mnombo Zwelendaba, Tertius Kruger, Tom Nel, Zane Bester, Connor Mahoney, Cameron Hufke