Rugby
Cheetahs hoogs beïndruk met jong vaskop Pitout─── MORGAN PIEK 09:13 Tue, 08 Jul 2025

Die Cheetahs se voorspelerafrigter, Tiaan Liebenberg, was vol lof vir die drie jong stutte in die span ná afloop van hul Curriebeker-oefenwedstryd teen die Suzuki Griekwas in Bultfontein.
Die vaskopstutte Frankie dos Reis en Ben Pitout, asook die loskopstut Malcolm Lamont, het almal hul man gestaan teen die meer ervare Griekwas tydens die 40–19-nederlaag.
Veral Pitout het baie beïndruk en is nie een keer in die skrum teruggedruk nie, en hy het sy hand opgesteek vir ‘n geleentheid om die Vrydag in Bloemfontein teen Georgië te speel.
Ben Pitout. Photo: ASEM Engage
Die oud-Springbok Liebenberg het aan OFM Sport gesê dat Pitout, wat reeds 130 kg weeg, ’n blink toekoms het.
“Nee, definitief. Hy het ’n briljante seisoen gehad by ons by Shimlas ook, en selfs al het hy in die Varsitybeker gespeel, is hy nog jonk,” sê Liebenberg.
“Hy is 20 jaar oud en hy’s in die diepkant ingegooi, en hy het baie goed gedoen. Ek dink daar’s ’n baie, baie groot toekoms vir hom.
“As hy kan heel bly, as hy fiks kan bly – jy weet, hy’s ’n ‘great’ laaitie. Hy’s ’n briljante spanman en rêrig ’n plesier om af te rig en in jou span te hê.
“Ek dink hy het baie respek gekry by die senior spelers met die manier waarop hy opgestaan het teen daardie Griekwa-pak wat baie fisiek was. Hy was rêrig goed gewees, en ek dink hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt.”
Hoewel hulle vir ’n derde wedstryd op ’n streep teen die Poubloues vasgeval het, is Liebenberg ook van mening dat hulle nou ’n duideliker prentjie het van waar hulle as span staan, en dat hulle nou weet waaraan daar getimmer moet word.
“Ja, nee, beslis. Ons het duidelik ’n paar goed gehad wat ons voor Vrydag wou uitsorteer,” sê Liebenberg.
“Daar was spesifieke aspekte waarna ons wou kyk, en ons het doelbewus ’n ander soort wedstryd gespeel as wat ons normaalweg in die Curriebeker sou doen – juis om daardie dinge te kon evalueer.
Frankie Dos Reis. Photo: Morgan Piek
“Maar ja, ek is baie tevrede met die skrums. Ons het twee 20-jarige stutte en ’n 24-jarige haker op die veld gehad, en hulle het ongelooflik goed gevaar teen ’n ervare Griquas-pak.
“Ons lynstane kort nog ’n bietjie aandag – dit is ’n nuwe stelsel, en hoewel dit nie as verskoning dien nie, gaan dit natuurlik tyd neem om te vestig.
“As ek terugkyk na wat ons wou bereik, dink ek ons het baie reggekry. Die telbord wys dit dalk nie, maar vanuit ons perspektief was dit ’n waardevolle wedstryd.”
Vrydag se wedstryd tussen die Cheetahs en Georgië by die Toyota-stadion skop om 19:00 af.