On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

Rugby

Junior Bokke draf vir eerste keer sedert 2014 in eindstryd uit

───   MORGAN PIEK 08:00 Tue, 15 Jul 2025

Junior Bokke draf vir eerste keer sedert 2014 in eindstryd uit | News Article
Riley Norton. Foto: Wêreldrugby

Die Junior Springbokke is deur na die eindstryd van die Wêreldrugby 0.20-Kampioenskap in Italië en sal teen Nieu-Seeland te staan kom.

Maandagaand in die tweede halfeindstryd, het die Junior Bokke vir Argentinië met 48–24 in Viadana geklop nadat hulle rustyd met 28–10 voorgeloop het.

Albie Bester het twee drieë vir Suid-Afrika gedruk, terwyl JJ Theron van Bloemfontein, asook Haashim Pead, Jaco Williams en Cheswill Jooste almal ook oor die doellyn gaan kuier het.

Junior Springbokke t. Argentinië. Foto: Wêreldrugby

Dit is die Junior Bokke se eerste eindstryd in die kompetisie in elf jaar. Hoewel hulle deursettingsvermoë op verdediging teen ’n dapper Argentynse span getoon het, sal die twee geelkaarte en 16 strafskoppe wat afgestaan is, aandag moet kry in hul voorbereiding vir Saterdag se eindstryd teen Nieu-Seeland in Rovigo.

Die Junior Springbok-kaptein en slot, Riley Norton, sê dit is ’n eer om die span aan te voer.

“Dis ’n uiters spesiale groep en ek is baie gelukkig met die mense wat ek rondom my het, van die afrigtingspan, die bestuur en die leierskap,” het die multi-talentvolle sportman gesê.

“Ons is almal op ’n gemeenskaplike missie. Dit maak my werk baie maklik, maar ek is uiters dankbaar en bevoorreg om in hierdie posisie te wees – en ons het nog een wedstryd oor.

“Dit was vandag ’n bietjie moeilik, maar ’n oorwinning is ’n oorwinning en ek is supertrots op die poging van die seuns. ’n Goeie Argentynse span, ’n super vaste fassete. Hulle het ons onder druk geplaas in die losgemaal en hulle is baie passievolle mense. Dit was ’n wonderlike rugbywedstryd.”

Junior Springbokke t. Argentinië. Foto: Wêreldrugby

Norton het bygevoeg dat Suid-Afrika se sterkte in sy diversiteit lê, en dat hulle ’n krag is waarmee rekening gehou moet word wanneer hulle saamstaan.

“Ek dink dis ons sterk punt as Suid-Afrikaners. Ons kom almal uit verskillende agtergrond en kan net waarde toevoeg

“Wanneer ons bymekaarkom met ’n gemeenskaplike doel om rugby te speel en ons op dieselfde missie is, dink ek dis wanneer ons uiters kragtig is.”

Junior Springbokke t. Argentinië. Foto: Wêreldrugby

“Ek kon dit nie doen sonder die ouens rondom my nie, en ek dink dis wat Suid-Afrika spesiaal maak: wanneer mense van verskillende kulture en rasse byeenkom en by mekaar leer.”

In die eerste halfeindstryd het Nieu-Seeland vir Frankryk met 34–26 gewen om hul plek in die eindstryd te bespreek. 

Saterdag se eindstryd tussen die Junior Springbokke en Nieu-Seeland in Rovigo skop om 20:30 af.

Junior Springbokke: Drieë – Albie Bester 2, Haashim Pead, Jaco Williams, JJ Theron, Cheswill Jooste Doelskoppe – Vusi Moyo 5, Dominic Malgas Strafskoppe – Moyo 2

Argentinë: Drieë – Agustín Garcia Campos, Timoteo Silva, Ramon Fernandez Miranda Doelskoppe – Rafael Benedit 2, Pascal Senillosa Strafskoppe – Benedit

 OFM Sport/Morgan Piek dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.