On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Rugby

Perses wil sake regstel teen Toetie se OP

───   MORGAN PIEK 10:20 Wed, 16 Jul 2025

Perses wil sake regstel teen Toetie se OP | News Article
Duan Pretorius, kaptein van die Griffons, verwag ’n baie goeie wedstryd Saterdag teen die OP in Wellkom. Foto: Morgan Piek - Morgan Piek

Die gees loop hoog in die Griffons-kamp aan die vooraand van hul Curriebeker Eerste Divisie-halfeindstryd teen Oostelike Provinsie in Welkom.

Die Griffons het tweede op die punteleer geëindig en sal dus die tuisveldvoordeel geniet vir die belangrike kragmeting. Hulle sal sonder twyfel ook staatmaak op die energie van hul passievolle ondersteuners.

Hoewel die Griffons vroeër in die toernooi die span van die Baai pakslae gegee het, het hulle ook in die SA Beker teen dié span vasgeval in ’n skokuitslag in die Nelson Mandelabaai-stadion.

Duan Pretorius, die Griffons se strydros-losskakel en kaptein. Foto: Morgan Piek

Die Perses het OP in die groepfase van die Eerste Divisie in Welkom met 66–32 geklop, maar in Gqeberha is hulle met 20-14 verslaan in ’n moet-wen-kragmeting. Dié nederlaag het daartoe gelei dat die Griffons ’n plek in die SA Beker-halfeindronde misgeloop het, en hulle is na die Eerste Divisie gerelegeer — ’n geweldige terugslag ná ’n paar seisoene in die Premier Divisie.

Daar is ’n gevoel onder die spelers dat Saterdag se halfeindstryd ’n gulde geleentheid bied om hul trots te herwin, sowel as die nodige selfvertroue voor ’n moontlike eindstryd teen die Valke.


Die Griffons se strydros-losskakel en kaptein, Duan Pretorius, het aan OFM Sport gesê hulle is gereed vir die wedstryd teen Allister Coetzee se span, en dat die gemoedere ná die teleurstelling in die SA Beker weer goed is.

“Ja-nee, die outjies se gemoed is nou baie positief, en elke week raak dit net beter,” sê Pretorius.

“Ons sien baie uit daarna. Dit was maar moeilik van die begin van die SA Beker tot nou toe.

Die Griffons-haker Willem van den Hever het vier drieë gedruk in sy span se oorwinning van 66–32 oor die OP vroeër vanjaar. Foto: Morgan Piek

“Daardie eerste wedstryd was steeds in ons gedagtes en dit was ’n moeilike tyd, maar die outjies is nou weer terug. Hulle is op ’n positiewe plek, en ons sien baie uit daarna.

“Ek dink die outjies weet waarvoor hulle speel, so dit gaan ’n baie goeie wedstryd wees hier in Welkom.”

Saterdag se halfeindstryd in die Down Touch Investments-stadion in Welkom skop om 15:00 af. Terselfdertyd sal die pasaangeërs, die Valke, in die ander halfeindstryd in die Barnard-stadion in Kemptonpark teen die Luiperds te staan kom.

OFM Sport/Morgan Piekcvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.