Rugby
Griekwas versterk voorry met ervare Prinsloo─── MORGAN PIEK 08:20 Tue, 22 Jul 2025

Die voormalige Luiperds-kaptein Ig Prinsloo is nou amptelik ’n Poubloue nadat hy by die Suzuki Griekwas aangesluit het. Hy sal van die aanvang van die Curriebeker in aksie wees vir die span van die Noord-Kaap.
Die stut is in die Griekwas se span ingesluit vir die Curriebeker Premierdivisie wat die naweek afskop.
Prinsloo is ’n boorling van Potchefstroom, maar het in Bloemfontein skoolgegaan en is ’n produk van Grey Kollege.
Ig Prinsloo in die 2022 Curriebeker-eindstryd teen die Griekwas in Kimberley. Foto: Morgan Piek
Die speler kan moontlik Vrydagaand sy buiging maak teen sy ou span, die Pumas, in Nelspruit, in die openingswedstryd van die 2025 Curriebeker.
Prinsloo het die grootste deel van sy loopbaan in die Laeveld deurgebring en was deel van die geskiedkundige Pumas-span wat in 2022 die Griekwas met 26–19 in Kimberley getroef het om die Curriebeker te wen.
Hy het ook ’n draai by die Sharks in Durban gemaak, maar het vroeër vanjaar by die Luiperds aangesluit. Hy het die span in die SA Beker aangevoer en ook in die Curriebeker Eerste Divisie vir die span van Noordwes uitgedraf.
OFM Sport het vroeër berig dat Prinsloo by die Griekwas sou aansluit, maar op daardie stadium was hy nog deur die Luiperds gekontrakteer en moes eers daardie verpligtinge nakom.
Prinsloo het aan OFM Sport gesê hy sien uit na die nuwe hoofstuk van sy loopbaan:
“My tyd by die Luiperds en my huis was goed vir my gewees, maar ek is bly dat ek nou hierdie nuwe hoofstuk kan aanpak,” sê Prinsloo.
Ig Prinsloo tydens die SA Beker wedstryd teen die Toyota Cheetahs in Bloemfontein. Foto: Morgan Piek
“Ja, ek het al baie in die verlede teen die Griekwas gespeel. Hulle is bekend vir hul fisieke en vinnige wedstryde. Ek is dus dankbaar en bly dat ek nou deel van hulle kan wees.
“En ja, ek sien uit na die Curriebeker wat voorlê. Ek dink dit gaan goed wees.”
Vrydagaand se wedstryd tussen die Pumas en die Griekwas by die Mbombela-stadion in Nelspruit skop om 19:00 af.
Griekwas-span vir die 2025 Curriebeker:
Stutte: Eddie Davids, Cebo Dlamini, Johan Louw, Corne Lavagna, Leon Lyons, IG Prinsloo, Ebune Ngundu, Ntobeko Shezi
Hakers: Dandré Delport, Gustav du Rand, Tiaan Lange, Janco Uys
Slotte: Athenkosi Khethani, Albert Liebenberg, Lungisile Mbiko, Malembe Mpofu, Derik Pretorius
Losvoorspelers: Marco de Witt, Carl Els, Gustav Erlank, Phumzile Maqondwana, Lourens Oosthuizen, Carel van der Merwe, Jac van der Walt
Skrumskakels: Caleb Abrahams, Bobby Alexander, Thomas Bursey, Xavier Swartbooi
Losskakels: Zinedine Robinson, Tyler Sefoor, George Whitehead
Senters: Zane Bester, Tyler Bocks, Tertuis Kruger, Tom Nel, Mnombo Zwelendaba
Buite-agterspelers: Cameron Hufke, Dylan Maart, Connor Mahoney, Izzy Novuka, Gurswin Wehr