On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Rugby

Jong Dos Reis opgewonde voor Curriebeker-buiging

───   MORGAN PIEK 10:43 Wed, 23 Jul 2025

Jong Dos Reis opgewonde voor Curriebeker-buiging | News Article
Frankie Dos Reis. Foto: Morgan Piek

Die opwinding heers in die Toyota Cheetahs se kamp voor die Curriebeker 2025, wat die naweek afskop.

Die Cheetahs sal eerste teen die Boland Kavaliers in Wellington aan die beurt wees, en hulle verwag niks minder as ’n klipharde wedstryd nie. Hulle sal moet uithaal en wys om hul veldtog op ’n hoë noot van stapel te stuur, veral teen ‘n Boland-span wat groot planne het en ‘n punt wil bewys.

Die laaste keer wat die Cheetahs in Wellington teen die Kavaliers te staan gekom het, het hulle met 45-29 vasgeval tydens die eerste ronde van die SA Beker.

Frankie Dos Reis net voor sy Cheetahs-buiging teen die Pumas in Nelspruit. Foto: Morgan Piek

Intussen het die Cheetahs se spel baie verbeter, en hulle het ook twee opwarmingswedstryde agter die blad vir die Curriebeker – iets wat hulle nie tydens die SA Beker gehad het nie.

Die Cheetahs beskik nou ook oor ’n bestuurspan met meer ondervinding as afrigters, siende dat hulle reeds ’n hele SA Beker-veldtog saam met die span deurgewerk het.

Daar is ook heelwat jong en opwindende spelers in die groep, insluitend die vaskopstut Frankie Dos Reis (21). Hy het in die SA Beker sy buiging teen die Pumas in Nelspruit gemaak, en was ook in die beginspan in die oefenwedstryde teen die Suzuki Griekwas in Bultfontein, asook teen Georgië in Bloemfontein.


Die speler, wat op skool was by Paarl Gimnasium in die Boland, weet hulle is in vir ’n taai kragmeting, maar is baie opgewonde om vir die eerste keer in die wêreld se oudste plaaslike toernooi te speel.

“Ek dink ons het ’n baie goeie voorbereiding gehad. Die voorseisoen en oefenwedstryde het almal goed verloop,” het Dos Reis aan OFM Sport gesê.

“Al die ouens is op dieselfde bladsy, en nou gaan dit daaroor om ons seisoendoelwitte uit te voer soos beplan.

“Ons is beslis getoets teen Georgië, veral in die vaste fasette, en dit is van kardinale belang dat ons daar sterk moet wees. As die enjin nie vroeg aan die gang kom nie, gaan ons hierdie naweek sukkel. Dis iets waarop ons trots en eer plaas, en ek sien regtig uit daarna.

Die 130kg vaskopstut Ben Pitout (links). Foto: Morgan Piek

“Dis ’n droom wat waar word,” sê die oud-Shimla-voorryman oor sy heel eerste Curriebeker-veldtog.

“Elke Suid-Afrikaanse seun droom daarvan om eendag as professionele speler ’n kans te kry – en dis vir my ’n groot eer om dit by die Vrystaat te doen.”

Die vaskopstut Ben Pitout sal moontlik ook sy Curriebeker-buiging vanaf die plaasvervangersbank maak. Hy was ’n jaar ná Dos Reis op Paarl Gim, asook die Shimlas gewees.

Sondag se kragmeting tussen die Boland Kavaliers en die Cheetahs in die Boland-stadion skop om 15:00 af.

OFM Sport/Morgan Piek cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.