Rugby
Nuwe kaptein Dlamini speel 50ste wedstryd in Mbombela-kragmeting─── MORGAN PIEK 07:53 Fri, 25 Jul 2025

Die Suzuki Griekwas se vaskopstut, Cebo Dlamini, sal Vrydagaand tydens die openingswedstryd van die 2025 Curriebeker sy buiging maak as die span se kaptein.
Dlamini sal die span op die veld lei wanneer hulle in Nelspruit teen die SA Beker-kampioene, die Pumas, te staan kom – ’n groot en belangrike kragmeting vir albei spanne.
Wat die wedstryd nóg meer besonders vir Dlamini maak, is dat hy nie net die span gaan aanvoer nie, maar ook sy 50ste wedstryd vir die Poubloues speel.
Cebo Dlamini. Photo: Louis Botha/Griekwas
Die Griekwas beskik oor ’n sterk leiersgroep, met die gesoute George Whitehead en die opwindende Marco de Witt, wat vroeër vanjaar tydens die SA Beker die span aangevoer het.
Boonop het die woelige haker, Janco Uys, in die verlede die Kwaste op die veld gelei, terwyl die flank Phumzile Maqondwana en slot Albert Liebenberg ook leierskapsrolle vervul het tydens die onlangse oefenwedstryd teen die Toyota Cheetahs, Boland Kavaliers en Westelike Provinsie.
Die Griekwas se afrigter, Pieter Bergh, sê Dlamini is sonder twyfel die regte man om die span aan te voer, en dat die spelers ook sy leierskap respekteer.
“Ek dink Cebo het beslis die respek van die hele groep,” sê Bergh.
“Hy’s iemand wat ons glo elke week in die beginspan hoort wanneer hy op sy beste is. Hy het ook die vermoë om goed met skeidsregters te kommunikeer, wat vir ons belangrik is.
“Maar vir my is die belangrikste dat hy ongelooflik hard werk. Hy is professioneel, het goeie dissipline, en die span het groot respek vir hom.
Albert Liebenberg. Foto: Morgan Piek
“Hy weet ook daar is sterk leiers rondom hom wat hom gaan ondersteun. Ons gaan steeds staatmaak op ouens soos George Whitehead, maar dit was vir ons belangrik dat spelers wat belangrike rolle in die span vervul, beloon word.
“En ek glo regtig Cebo is die regte persoon om ons in die Curriebeker aan te voer.”
Die sterk voorman het op sy beurt gesê dat dit vir hom belangrik is dat die afrigter in sy vermoëns glo. “Ek het met Coach Piet gesels, en hy glo in my,” sê Dlamini.
George Whitehead. Foto: Morgan Piek
“Ek waardeer sy ondersteuning regtig, maar dit is belangrik dat ek met my dade lei en goed speel. Dis noodsaaklik dat ’n kaptein presteer en energie én kalmte na die groep bring.
“Ons het ’n goeie mengsel van ervare ouens en nuwe gesigte, so die balans is reg, en ek sien uit na wat voorlê.”
Vrydagaand se openingswedstryd van die 2025 Curriebeker-seisoen skop om 19:00 af by die Mbombela-stadion.
Pumas – 15 Tino Swanepoel, 14 Lundi Msenge, 13 Sango Xamlashe, 12 Clinton Swart, 11 Darren Adonis, 10 Danrich Visagie, 9 Ross Braude, 8 Willie Engelbrecht (kaptein), 7 Kwanda Dimaza, 6 Ntsika Fisante, 5 Jeandré Leonard, 4 Heinz Bertram, 3 Sampie Swiegers, 2 Eduan Swart, 1 Etienne Janeke
Plaasvervangers – 16 Darnell Osuagwu, 17 Stephan de Jager, 18 Dewald Maritz, 19 JJ Scheepers, 20 André Fouche 21 Russwill Fredericks, 22 Wian van Niekerk, 22 Stephan Coetzee
Griekwas – 15 Cameron Hufke, 14 Dylan Maart, 13 Mnombo Zwelendaba, 12 Tertius Kruger, 11 Gurswin Wehr, 10 George Whitehead, 9 Caleb Abrahams, 8 Gustav Erlank, 7 Carl Els, 6 Jac van der Walt, 5 Albert Liebenberg, 4 Malembe Mpofu, 3 Cebo Dlamini (kaptein), 2 Tiaan Lange, 1 Leon Lyons
Replacements – 16 Gustav du Rand, 17 Eddie Davids, 18 Ntobeko Shezi, 19 Derik Pretorius, 20 Marco de Witt, 21 Thomas Bursey, 22 Tylor Sefoor, 23 Connor Mahoney