On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Rugby

Kwaste klop Boland ná groot skrik in Kimberley

───   MORGAN PIEK 08:00 Mon, 04 Aug 2025

Kwaste klop Boland ná groot skrik in Kimberley | News Article
Marcqiewn Titus Sondag in aksie. Foto: Danie van der Lith

Die Suzuki Griekwas het Sondagmiddag (3/8) hul eerste sege in die Curriebekerreeks beklink danksy ’n sterk terugvegpoging om die Boland Kavaliers in Kimberley met 48-39 af te stof.

Die Kwaste moes hard werk vir die oorwinning nadat Boland danksy ’n blitzkrieg van vier drieë in die laaste sewe minute voor rustyd, die voortou met 34–19 geneem het.

Nadat die Griekwas ná 33 minute met 19–10 voor was, het die besoekers die tuisspan se foute genadeloos uitgebuit en het David Brits en die oud-Griekwa Marcqiewn Titus agter die doellyn gaan kuier. Die Blitsbok Donovan Don het op sy beurt twee drieë gaan druk vir ’n 15 punt-voorsprong teen halftyd.

Gurswin Wehr teen die Toyota Cheetahs tydens die SA Bekertoernooi. Foto: Morgan Piek

Kort ná rustyd het die Poubloues se skrumskakel, Caleb Abrahams, binne twee minute twee drieë gedruk om die terugvegpoging aan die gang te sit. Daarna het die speler van die wedstryd, Gurswin Wehr, sy tweede drie in die 50ste minuut gaan druk.

Don se driekuns-drie in die 58ste minuut het weer druk op die tuisspan geplaas, maar hulle het teruggeslaan met drieë deur die reserwe-haker Tiaan Lange en die plaasvervanger-slot Derik Pretorius.

Dit was genoeg vir die Kwaste om die oorwinning en ’n waardevolle bonuspunt te verseker.


Ná die sege het die tuisspan se afrigter, Pieter Bergh, aan OFM Sport gesê hul halftydpraatjie moes drasties aangepas word nadat Boland skielik ’n rits drieë gedruk het. Hy was egter ook vol lof vir die karakter wat sy span gewys het in hierdie belangrike oorwinning.

“Ons was 19–10 voor ná 33 minute, en toe staan ons vier drieë af met net sewe minute oor voor rustyd. So, die halftydpraatjie het skielik ’n heel ander toonaard gekry,” sê Bergh.

“Maar om 29 punte in die tweede helfte aan te teken teenoor hul vyf, wys net die karakter en gees van hierdie span. Ek is baie trots op die manne en hoe hulle teruggeveg het.”

Dylan Maart. Foto: Morgan Piek

Bergh sê hulle sal egter moet uithaal en wys en kan dit vorentoe nie bekostig om ongedwonge foute te maak nie. Die span sal beslis beter moet vaar wanneer hulle dié week teen die Westelike Provinsie speel.

“Ons sal beslis moet werk daaraan om minder foute te maak – daardie vier drieë in sewe minute was almal afkomstig van ons eie foute.

“Maar ons het ook gewys waartoe ons in staat is. Ons het goed gedryf, ons aanval was baie beter, en ons het gewys wat ons kan doen as ons momentum het.

Pieter Bergh. Foto: Morgan Piek

“Dit gaan nou daaroor om dié foute uit te skakel, ons afskoppe beter te beheer, en hopelik gee hierdie oorwinning ons die selfvertroue vir Vrydag se wedstryd teen die WP.”

Die nederlaag het teen ’n hoë prys gekom vir die besoekers deurdat die woelige sesflank van Boland, Gift Dlamini, sy been in die eerste 20 minute van die kragmeting gebreek het en met ’n draagbaar van die veld is.

Die Griekwas sal Vrydagmiddag om 15:00 in die Suzuki-stadion in Kimberley teen die Streeptruie te staan kom. Boland sal op hul beurt ‘n moelike wedstryd hê wanneer hulle Sondag in Wellington teen die onoorwonne Lions speel.

Puntemakers:

Griekwas: Drieë - Dylan Maart, Lourens Oosthuizen, Gurswin Wehr 2, Caleb Abrahams 2, Tiaan Lange, Derik Pretorius Doelskoppe - George Whitehead 4

Boland: Drieë - Lunathi Nxele, David Brits, Donavan Don 3, Marcqiewn Titus Doelskoppe - James Tedder Strafskop - Tedder

OFM Sport/Morgan Piek 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.