On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Rugby

Bokvroue blits uit die blokke in Northampton

───   MORGAN PIEK 08:06 Mon, 25 Aug 2025

Bokvroue blits uit die blokke in Northampton | News Article
Libbie Janse van Rensburg. Foto: Morgan Harlow/Wêreldrugby via Getty Images

Die Springbokke het hul 2025 Vrouerugby-wêreldbekerveldtog op ’n hoë noot afgeskop met ’n eensydige 66–6 sege oor Brasilië op Franklin’s Gardens in Northampton.

Aseza Hele, wat die nommer agt-trui gedra het, het Sondag ’n driekuns in drieë aangeteken, terwyl losskakel Libbie Janse van Rensburg en linkervleuel Ayanda Malinga elk twee keer agter die doellyn gaan kuier het.

Die Springbokke het as span tien drieë gedruk, sonder om enige af te staan. Raquel Kochhann het met ’n strafskop in elke helfte al Brasilië se punte aangeteken.

Aseza Hele. Foto: Morgan Harlow/Wêreldrugby via Getty Images

Die Bokke het in baie opsigte beïndruk in hul oorwinning, maar ’n groter uitdaging wag wanneer hulle die naweek in hul tweede Poel A-kragmeting teen Italië te staan kom. Italië het wel in hul eerste wedstryd met 24–0 teen Frankryk verloor, maar word steeds as ’n baie sterker span as Brasilië en Suid-Afrika geag. Brasilië is tans 25ste op die wêreldranglys, terwyl Italië sewende is – hoër as die 12de gekeurde Suid-Afrika.

Springbok-afrigter Swys de Bruin sê hulle is op die regte pad, maar daar is steeds heelwat aspekte van hul spel wat verbeter moet word.

“Daar is nog baie werk wat voorlê voordat ons Italië kan wen, dit is verseker,” het De Bruin gesê.


“Ek was nie tevrede met die afbreekpunte nie, maar met ander aspekte was ek wel tevrede. Ons het goeie variasie in ons spel getoon. Wanneer daar ruimte was, het die spelers dit mooi gelees en nooit opgehou nie. Hulle het aangehou, aangehou en aangehou.

“Ons teenaanvalle was ook baie goed. So ja, goeie dinge gebeur, maar ons sal veral by die afbreekpunte moet verbeter.”

De Bruin het beklemtoon dat die span nou so vinnig as moontlik moet herstel, aangesien die uitdaging teen Italië veel groter gaan wees.

Die Springbokskrum in aksie teen Brasilië. Foto: Morgan Harlow/Wêreldrugby via Getty Images

“Ons moet nou herstel, en al ons fokus verskuif na Italië,” het hy gesê oor die tweede groepwedstryd wat volgende Sondag in York plaasvind.

“Ons wou ’n sterk begin in die toernooi hê, en dit het ons gekry. Welgedaan aan die spelers. Die beginspan het ’n stewige fondament gelê en die bank het sterk klaargemaak – wat ’n heerlike spanvertoning.

“Dit was ook verblydend dat ons geen drieë afgestaan het nie. Kyk, Brasilië is die laagste gekeurde span in die toernooi en het vir die eerste keer op hierdie vlak gespeel, maar ons moes steeds goed speel om soveel punte aan te teken. Dit was ’n volwaardige 80-minuut-poging, en ek kan nie fout vind met die werktempo nie.”

Raquel Kochhann. Foto: Morgan Harlow/Wêreldrugby via Getty Images

Sondag se kragmeting tussen die Springbokke en Italië op die LNER Community-stadion in York skop om 16:30 af.

Puntemakers:

Springbokvroue: Drieë - Nadine Roos, Aseza Hele 3, Ayanda Malinga 2, Libbie Janse van Rensburg 2, Aphiwe Ngwevu, Lerato Makua Doelskoppe - Byrhandre Dolf 8

Brasilië: Strafskoppe - Raquel Kochhann 2

OFM Sport/Morgan Piek cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.