On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Rugby

Cheetahs lek hul lippe af vir Bulls

───   MORGAN PIEK 09:19 Tue, 02 Sep 2025

Cheetahs lek hul lippe af vir Bulls | News Article
Juan Venter. Foto: Morgan Piek

Die Toyota Cheetahs verloor nie veel slaap oor die sterk moontlikheid dat hulle dié week teen die Verenigde Rugbykampioenskap-span van die Bulls te staan sal kom in die laaste rondte van die Curriebeker nie.

Die Cheetahs moet die Bulls, met hul spelers wat terugkeer van die VRK, op Loftus Versfeld klop, verkieslik met ’n bonuspunt, om hul plek in die halfeindrondte te bespreek. Die Sharks kan egter Vrydagaand reeds die Cheetahs ’n guns bewys indien hulle die Pumas in Durban klop en ook verhoed dat die span van die Laeveld enige bonuspunte inpalm.

Die feit dat die Bulls se nuwe afrigter, Johan Ackermann, Dinsdag die span se perskonferensie sal behartig dui daarop dat hul VRK-spelers in aksie sal wees. 

Juan Venter teen die WP. Foto: Morgan Piek

Heelparty van dié spelers, soos Ruan Nortjé, Marco van Staden, Canan Moodie en Willie le Roux, is egter tans in Nieu-Seeland saam met die Springbokke vir die twee Rugbykampioenskap-toetse teen die All Blacks.

Hoewel dit ’n moeilike wedstryd vir die Vrystaters sal wees, is dit ook ’n gulde geleentheid vir die besoekers om hul stem dik te maak en teen sterk teenstanders voor te berei vir ’n moontlike halfeindstryd.

Een van die Cheetahs se uitblinkers in die Curriebekerreeks tot dus ver is die jong Shimlas-slot Juan Venter, wat vroeër in die reeks sy buiging gemaak het en nie weer teruggekyk het nie. Venter is veral uitstekend in die lynstanne en het die vermoë om teenstanders se balle voor te steel, amper op dieselfde vlak as Eben Etzebeth.

Venter het aan OFM Sport gesê sy tyd by die span is tot dusver vir hom baie lekker. Sy vaardigheid in die lynstane is iets waarop hy trots is, en dit is iets wat kom sedert sy laerskooldae by Grey Kollege.

“Baie lekker, dis ’n atmosfeer hier – dit is ongelooflik,” sê die jong hemelbesem wie se pa, Martin, self op flank vir die Vrystaat uitgedraf het. “As een van die jonger spelers kyk die ouer manne na ons en hulle help my baie.

“Dit kom al van laerskool af. Lynstane is my ding – ek hou baie daarvan. Van kleins af wou ek spring in die lynstaan, en omdat ek so lig is, kom dit maar net natuurlik.”


Hoewel die hewige 40-10-nederlaag teen die Suzuki Griekwas die Cheetahs se momentum gebreek het, was dit dalk ’n bedekte seën, aangesien hul tekortkominge blootgelê is. Venter sê dit is belangrik om te leer uit hul foute.

Hy meen ook sou die Bulls hul VRK-span in die veld stoot, is die Cheetahs reg daarvoor.

“Ek dink die verloor voor die Bulls is dalk nie die slegste ding nie. Ons moet nou net harder werk en harder speel. Die foute wat ons gemaak het, moet ons regmaak teen die Bulls.

Juan Venter. Foto: Morgan Piek

“As hulle hul VRK-span wil speel, laat hulle dit doen. Ons wil self ook graag in die VRK speel. So ons moet maar ons man staan teen hulle. Dit help nie ons kla as hulle hul VRK-span speel nie – dit wys net waar ons ook graag wil wees.”

Vrydag se maak-of-breek-kragmeting tussen die Bulls en die Cheetahs in Loftus Versfeld in Pretoria skop om 19:05 af.

OFM Sport/Morgan Piek cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.