Rugby
Cheetahs gereed vir taai kragmetings teen Black Lion─── MORGAN PIEK 08:48 Tue, 14 Oct 2025

Die Toyota Cheetahs staal hulself vir twee moeilike wedstryde wanneer hulle vanaf Vrydag in Bloemfontein teen Black Lion van Georgië te staan sal kom in die 2025 Toyota Uitdaagreeks.
Vir die eerste keer in die reeks se vyfjarige geskiedenis sal twee spanne wat in die Europese Uitdaagbeker speel, koppe stamp. Met die oog op die toernooi in Europa is dit vir albei spanne ’n groot geleentheid om teen ’n goeie teenstander te slyp, maar die kragmetings word beslis nie as oefen- of opwarmingswedstryde beskou nie.
Die Cheetahs is die afgelope twee weke besig met ’n mini-voorseisoen en daar is baie aandag op die spelers se fiksheid en spoed. Dis veral spoed by die afbreekpunte wat aandag geniet.
Pierre Uys probeer Ilia Spanderashvili keer wat voorheen vir Black Lion gespeel het. Photo: Morgan Piek
Krag sal ook belangrik wees wanneer hulle in Europa teen spanne soos Racing 92 en Stade Français te staan kom want die spelers is groter, sterker en vinniger.
Die Cheetahs se gesoute haker, Chucky van der Westhuizen, wat die laaste paar wedstryde van die Curriebeker misgeloop het weens ’n kuitbesering, het aan OFM Sport gesê die twee wedstryde is ’n ideale geleentheid vir hulle om hul stem dik te maak.
“Ja, 100%, ons sien nie hierdie wedstryde as blote opwarmingswedstryde nie. Dit is steeds deel van ons voorseisoen,” sê die Namibiese internasionale haker.
“Ons fokus is op die EPCR en dis waar ons ons stempel wil afdruk. Dis ’n goeie geleentheid om teen daardie ouens te toets. Soos jy sê, hulle is ook in dieselfde bootjie as ons. Hulle is ook in die EPCR.
“Dit is ‘n groot geleentheid vir albei spanne, dink ek, om blootstelling te kry en ’n paar wedstryde te speel voor die kragmetings wat in Desember opkom.”
In Julie het die Cheetahs in ’n wedstryd teen die nasionale span van Georgië gespeel en met 24–20 in Bloemfontein gewen. Baie van die Black Lion-spelers het in daardie kragmeting gespeel, maar heelwat van hulle speel egter hul klubrugby in Frankryk vir spanne soos Lyon. Hulle is wel geslyp deur dieselfde afrigter, Richard Cockerill.
Van der Westhuizen sê die reeks sal sonder twyfel vir die besoekers ’n bietjie meer persoonlik wees en hulle sal hulself moet staal vir twee moeilike en harde wedstryde.
“Ek dink dit gaan persoonlik wees vir hulle, want dis nooit lekker om teen ’n nie-internasionale span te verloor nie. Hulle gaan beslis met ’n ander ingesteldheid kom – dalk met ’n bietjie wraak.
“Ons het natuurlik weereens die tuisveldvoordeel. Ek dink dis vir hulle ook lekker om uit te kom, in ‘n ander omgewing te speel en blootstelling te kry.”
Shalva Aptsiauri van Black Lion het twee keer oor die doellyn gaan kuier tydens Georgië se kragmeting teen die Cheetahs. Photo: Morgan Piek
Dit gaan taai wees - ons weet wat die Georgiërs bring. Hulle is kliphard en speel goeie kwaliteit-rugby op die oomblik. Ek dink dit gaan lekker wees.”
Vrydag se eerste kragmeting tussen die Cheetahs en Black Lion by die Toyota-stadion sal om 18:00 afskop.
Black Lion toergroep - Dato Abdushelishvili, Vasil Kakovin, Nikoloz Khatiashvili, Irakli Kvatadze, Tamaz Tchamiashvili, Shalva Mamukashvili, Giorgi Chkhartishvili, Kakhaber Darbaidze, Badri Tsikhistavi, Mikheili Babunashvili, Demur Epremidze, Guram Ganiashvili, Giorgi Nikoladze, Loseb Gusharashvili, Giorgi Kervalishvili, Sandro Mamamtavrishvili, Giorgi Sinauridze, Lasha Tsikhistavi, Giorgi Tsutskiridze, Tengiz Peranidze, Giorgi Spanderashvili, Davit Khuroshvili, Luka Tsirekidze, Luka Takaishvili, Lasha Malaguradze, Tornike Kakhoidze, Zaur Lutidze, Akaki Tabutsadze, Alexander Todua, Shalva Aptsiauri, Amirani Shvangiradze, Otari Metreveli