Rugby
‘Baie trots op Ox’ – Smith loof Nché ná Wêreld Rugby-benoeming─── MORGAN PIEK 07:51 Thu, 20 Nov 2025
Franco Smith, die oud-Toyota Cheetahs en Shimlas-afrigter, is vol lof vir die 30-jarige Springbok-stut Ox Nché nadat hy as Wêreld Rugby se Speler van die Jaar benoem is.
Nché is die eerste stut in die geskiedenis wat vir hierdie gesogte toekenning benoem word. Die ander benoemdes is sy spanmaats Pieter-Steph du Toit en Malcolm Marx, asook die Franse vleuel Louis Bielle-Biarrey.
Du Toit is Wêreld Rugby se huidige Speler van die Jaar en ’n groot aanspraakmaker om slegs die derde speler in die geskiedenis en eerste Suid-Afrikaner te word om die prys drie keer te wen. Die ander twee is die All Blacks Dan Carter en Richie McCaw.

Ox Nché. Foto: Morgan Piek
Smith wat in sy speeldae self vir die Springbokke en Vrystaat uitgedraf het, is bly in Skotland waar hy die Glasgow Warriors in die Verenigde Rugbykampioenskap afrig. Hy was in ’n stadium ’n hulpafrigter van die Springbokke en die hoofafrigter van Italië.
Nché is ’n Bloemfonteiner in murg en been. Hy was in die HTS Louis Botha wat Springbokke soos Daan Human, AJ Venter, Oupa Mohoje, Joseph Dweba en Raymond Rhule opgelewer het.
Nché en Dweba het saam vir die Junior Springbokke uitgedraf toe hulle vir die Junior Vrystaat-spanne gespeel het. In 2015 was Nché deel van die Shimlas wat die Varsity-beker gewen het. ’n Jaar later het hy saam met die Cheetahs die Curriebeker gewen het.
In 2019 het hy die Curriebeker vir ’n tweede keer saam met die Cheetahs gewen. Smith was die afrigter vir al drie oorwinnings en het ’n groot rol in Nché se vroeë loopbaan gespeel.
Smith sê aan OFM Sport Nché is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n Springbok sy waardes moet uitleef. Hy hoop die sterk voorryman kan die eerbewys wen want hy verdien dit. Die Vrystaat moet trots wees dat ’n seun van die provinsie in aanmerking kom vir die grootste individuele toekenning in rugby.
“Ja, uit die aard van die saak is ek baie trots op Ox,” sê Smith vanuit Glasgow.

Franco Smith. Foto: Morgan Piek
“Hy het hard gewerk vanaf sy dae as ’n jong man by die HTS Louis Botha in Bloemfontein. Sy pad deur die Vrystaat het hom gevorm en hoewel hy vroeg geïdentifiseer is as ’n moontlike Springbok het hy ongelooflik hard gewerk om dit te word.
“Die manier waarop hy by die Vrystaat gespeel, geoefen, geleer en bereid was om te verbeter het daartoe gelei dat hy ’n gehaltespeler vir enige span is.
“Sy benoeming is ’n bewys daarvan.”

Ox Nché. Foto: Morgan Piek
“Hy speel altyd ’n goeie toets en speel sy hart uit, want hy is ’n goeie mens en ’n goeie persoon en ek is baie trots op hom.
“Ek hoop dat hy geseënd sal wees om hierdie toekenning te kan kry. Die Vrystaat en al sy mense kan baie trots wees op ’n Vrystaatseun wat so ver gekom het en so goed speel op ’n baie hoë vlak.”
Nog ’n veertjie in Nché se hoed is dat hy vroeër vanjaar as die amptelike onderkaptein van die Springbokke vir ’n paar toetse was.
Die 2025 Wêreld Rugby Speler van die Jaar sal Saterdagaand aangekondig word.
Morgan Piek OFM Sport
