Rugby
Spoedvraat Maart slaggereed vir nuwe hoofstuk by die Stormers─── MORGAN PIEK 09:05 Fri, 21 Nov 2025
Die Suzuki Griekwas-spoedvraat Dylan Maart is slaggereed en opgewonde om sy staal op ’n hoër vlak in die Verenigde Rugbykampioenskap te wys.
Na afloop van die Poubloues se Curriebeker-veldtog, waarin hulle die wêreld se oudste plaaslike rugbytoernooi vir die eerste keer in 55 jaar gewen het, is Maart en Gurswin Wehr na die Kaap gelok om saam met die Stormers te oefen.
Wehr gaan egter na Engeland, waar hy vir die Engelse Premierliga-span die Sale Sharks die geleentheid kry om sy stempel af te druk.

Dylan Maart. Photo: Morgan Piek
Die skrumskakel Caleb Abrahams was ook op John Dobson se radar, maar het hom toe nie by die span aangesluit nie, omdat die veteraan Dewald Duvenhage ingespan is.
Maart is nou amptelik deur die Stormers as leenspeler nader getrek, omdat Seabelo Senatla beseer is, en hy kry nou sy kans om op ’n hoër vlak getoets te word.
Dié gevaarlike vleuel is ’n Bolander in murg en been, en om hom by die Stormers aan te sluit, is vir hom niks vreemds nie.
Maart het aan OFM Sport gesê dit is ’n groot geleentheid wat hom opgewonde maak, en hy gaan dit sonder twyfel met albei hande aangryp.
“Dit is ’n groot geleentheid vir my. Dit is soos een van daardie drome om teen die beste in die wêreld te wil meeding,” sê Maart.
“Die paaie en omstandighede is nie altyd maklik nie, maar as jy jou reg voorberei en jou geloof en jou hart jou lei, kan jy werk om jou doel te bereik.
“Dit is lekker om hier te wees. Ek geniet dit vreeslik en leer elke dag baie by my spanmaats en afrigters, veral omdat ek saam met manne speel wat al vir Suid-Afrika uitgedraf het, soos Warrick Gelant.

Gurswin Wehr. Photo: Morgan Piek
“Jy probeer elke dag beter word en aanhou leer. Ek voel reg vir hierdie geleentheid en weet my vermoëns het my hierheen gebring – ek is nie per toeval hier nie.
“Ek is opgewonde om my debuut te maak en van hier af verder te bou.”
Maart kan moontlik reeds so vroeg as volgende week sy Stormers-debuut maak wanneer hulle na Ierland reis om Munster in Limerick die stryd aan te sê.

