On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Yellow Door

Bêre-mense, versamelaars en opgaarders

───   ALBÉ GROBBELAAR 08:21 Tue, 16 Apr 2013

Bêre-mense, versamelaars en opgaarders | News Article

Hulle sê daar is ‘n verskil tussen versamel en opgaar. Albé Grobbelaar wonder oor hierdie begrippe.

Om jouself te kan sien soos ander jou sien, is nie moontlik nie. Dalk is dit maar goed so. Maar soms moet ‘n mens tog so objektief as wat moontlik is, probeer kyk na sekere aspekte van jou lewe. Dis ‘n uitdaging om uit jouself te klim en van buite af die “Ware Jy” gade te slaan. 

Ek dink my vrou dink ek is ‘n opgaarder. Sy sê dit (nog) nie, maar ek dink sy dink dit. En ek dink sy weet ek dink sy dink dit.

Wanneer kom daar ‘n punt dat die begrippe “bymekaarmaak” of “versamel” of “bêre” daardie gevaarlike grys gebied oorsteek na die skaduwêreld van die “opgaarder” toe? Wanneer begin jy die gevaarsone van daardie grillige gaarders van goeters betree? Ek kry rillings as ek net dink aan die begrip “hoarding”, wat nou al selfs tot werklikheids-televisiereekse gelei het. Kompulsiewe mense met patologiese afwykings wat hulle blyplekke so volprop met gemors, dat hulle verdwerg en verberg en verswelg word deur nuttelose stapels snert.

Die gesaghebbende Woordeboek van die Afrikaanse Taal verduidelik die woord “opgaar” soos volg:

Met verloop van tyd tot 'n groot hoeveelheid bymekaarmaak, gewoonlik vanweë 'n ongeordende lewenswyse of vanweë 'n begerigheid of drang om iets te besit.”

Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek oordeel ewe verdoemend:

op´gaar, -ge-. Uit hebsug versamel; opgaarder.”

Is ‘n mens ‘n hebsugtige opgaarder as jy dit moeilik vind (goed, báie moeilik) om dinge weg te gooi? Is jy nie net spaarsaam nie? Om ‘n “versamelaar” te wees, klink soveel meer edel en lofwaardig as om ‘n “opgaarder” te wees.

Klere is my ding. En meubels. Stoele. Tafels. Banke. Kussings. En ou rekenaars en drukkers. En langspeelplate. En video’s. En boeke. En tydskrifte. En, en, en...

Ek dra nou nog hemde wat ek in 1990 gekoop het. En baadjies en broeke. My familie weet al dat ek Kaap toe sal ry om hulle ou meubels te gaan oplaai en plaas toe te vat as hulle iets uitgooi.

Hoe kan ek my digby tweehonderd video’s weggooi? Sê nou net daar is dalk iets onvervangbaars op een van hierdie opnames.

Of langspeelplate. Daardie ikoniese kunswerke op die tydlose omslae kan mos so nooit as te nimmer weggesmyt word nie. Hoe kan enigiemand van so iets ontslae raak.

Wat maak ‘n mens met ‘n ou rekenaar? Sê nou net jy kan dit weer gebruik. En erger nog, sê nou maar jy smyt dit weg en iemand anders tel dit op en kry dit weer aan die werk. Sê nou maar daar is van jou wagwoorde iewers gestoor op die hardeskyf. Jy gooi nie ‘n ou rekenaar weg nie. Jy bêre dit in die garage, langs die stukkende drukker en die ou fotostaatmasjien en die faksmasjien wat met ‘n bliksemstraal tydens daai donderstorm in 2001 die gees gegee het.

Boeke en tydskrifte is veral my ding. Ek kan om die dood toe nie ‘n boek of ‘n tydskrif weggooi nie. In ‘n stadium het ek koerante ook gebêre, maar toe ek besef het dat die dag vinnig sou aanbreek dat ek sou moes kies tussen my vrou en die vorige eeu se Volksblaaie, het ek teësinnig gekapituleer.

Hoe kan iemand ‘n ou tydskrif weggooi? Daar is niks so lekker soos om op die plaas (die stoorplek van alles wat my vrou uitsmyt) ‘n “Radio & TV Dagboek” op te tel en te sien dat “Beste Professor” Vrydagaand uitgesaai word, en dat ons Saterdagmiddag kan naderskuif vir “Redding Internasionaal” nie. En om jou te verlekker in Heidi en Clara se stryd met Juffrou Rottenmeier nie.

Of my geliefde Time-uitgawes. Ek lees net laasweek dat pres. Kennedy samesprekings met J. Edgar Hoover gevoer het, en dat hy Dallas gaan besoek.

Boeke is seker die moeilikste. Boeke is heilig. Maar as ‘n mens dit klinies, rasioneel en kognitief beredeneer, moet ek erken dat sekere boeke op my rak geen sin meer maak nie. Daar is titels wat ek wéét niks beteken nie. Vat nou maar my geliefde “Standard Encyclopaedia of Southern Africa” (SESA). Ek het in 1980 al twaalf die volumes vir R250 gekoop (wat destyds ‘n halwe maand se salaris was). Maar ek het twintig jaar gelede laas iets daarin opgesoek. En die kans is bitter skraal dat ek in die volgende twintig jaar iets daarin gaan opsoek. Selfde met my Encyclopaedia Britannica. Ek kan dit nie verkoop nie, want niemand wil dit hê nie. Maar ek kan dit om die dood toe nie weggooi nie. Ek kan net nie.

Maak dit van my ‘n patologiese, obsessief-kompulsiewe opgaarder? Of is ek ‘n gedistingeerde, fynbeskaafde versamelaar, iemand wat die werklike waarde van dinge besef?

Om jouself te kan sien soos ander jou sien, is nie moontlik nie. Dalk is dit maar goed so.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.