Local News
Man wat drie skiet, selfmoord pleeg, se naam bekend─── 05:55 Sun, 15 Dec 2013
Potchefstroom - Die sanger Zirk Bergh het Saterdag twee mense in Potchefstroom doodgeskiet en sy eksvrou beseer voordat hy selfmoord gepleeg het.
“Die man het ‘n afspraak gehad om sy agtjarige dogtertjie by die maatskaplike werker se kantoor te ontmoet,” het kapt. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie in Noordwes, gesê.
Toe die eksvrou, haar huidige man en die dogter omstreeks 08:00 opgedaag het, het die man ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en sy dogter aangesê om by die kantoor in te hardloop. “’n Vriendin van die maatskaplike werker was tuis toe sy die geweerskote gehoor het.”
Die vriendin het uit die huis uit gehardloop en Bergh en die maatskaplike werker het langs die pad dood gelê. Die eksvrou en haar man het altwee kopbeserings opgedoen.
Makau sê die vrou was in ‘n kritieke toestand. Haar man het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) het gesê hy betreur die afsterwe van een van sy “gewaardeerde” maatskaplike werkers.
Die kinders is nie in die voorval beseer nie.
Steve Hofmeyr het op Twitter geskryf: “Baie jammer. Hy was n verstommende gas op Dis Hoe Dit Is.” Talle ander bekendes het ook op Twitter hul medelye uitgespreek.
Maroela Maroela; Sapa