On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Iran-teenaanval volg kort op Israeliese lugaanvalle

───   14:34 Fri, 13 Jun 2025

Iran-teenaanval volg kort op Israeliese lugaanvalle | News Article
Iran het ná die lugaanvalle sy rooi vergeldingsvlag gehys. Foto: X

Spanning in die Midde-Ooste het nuwe hoogtes bereik toe Israel Vrydagoggend (13/6) onder meer Iran se kern- en militêre fasiliteite, asook die land se hoofuraanverrykingsaanleg in Natanz, geteiken het.

Die dood van ses prominente kernwetenskaplikes en die Iranse bevelvoerder van die elite- Rewolusionêre Garde tydens Israeliese lugaanvalle is bevestig. 

Genl.maj. Hossein Salami is dood in Israel se aanval op die eenheid se hoofkwartier, waar ander amptenare waarskynlik ook geteiken is. Die aanval het ook genl.maj. Mohammad Bagheri, Iran se hoogste militêre offisier, se lewe geëis.

Foto: iStock

Die operasie, “Operation Rising Lion”, is deur die Israeliese Weermag beskryf as ’n “voorkomende, presiese, gekombineerde aanval gebaseer op hoëgehalte-intelligensie”.

Iran het in reaksie meer as honderd hommeltuie op Israel afgevuur. 

Die land moet voorberei vir “’n langdurige operasie,” het die Israeliese militêre woordvoerder, Effie Defrin, aan CNN gesê. “Ons sal voortgaan met die operasie totdat die oorlog se doelwitte bereik is,” sê Defrin, met verwysing na spanning met Iran, sowel as Israel se oorlog in Gasa.

Defrin sê egter die meeste van die Iranse hommeltuie is reeds buite die Israeliese gebied onderskep.

Israeliese owerhede het inwoners gewaarsku om naby bomskuilings te bly. Skole en ondernemings het ook gesluit. Daardie opdragte is intussen opgehef, tog bly die situasie gespanne. 

In afwagting op verdere aanvalle op die Ben Gurion-lughawe, het lugrederye soos El Al, Arkia en Israir as deel van noodplanne hul vliegtuie na onbekende plekke buite die land verskuif.

Plaaslike en internasionale reaksie

Die lugaanvalle verteenwoordig die mees betekenisvolle eskalasie tussen Israel en Iran in onlangse jare. Die twee lande is al lank teenstanders, met Israel wat sterk teen Iran se kernambisies gekant is. 

Israel beskuldig Iran daarvan dat hulle militante groepe in die streek finansier en bewapen, insluitend Hamas in Gasa, Hezbollah in Libanon, die Houthi’s in Jemen, en verskeie groeperings in Sirië en Irak.

Iran beskuldig op sy beurt Israel van verskeie sluipmoorde op wetenskaplikes en militêre leiers – aantygings wat Israel nooit amptelik erken of ontken het nie, volgens Sky News.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het bevestig dat die VSA nie by die Israeliese aanval betrokke was nie, en het Israel se reg op selfverdediging beaam. President Donald Trump het die aanval egter gekritiseer en gesê dat diplomasie steeds moontlik is en dat ’n kernooreenkoms met Iran nog bereik kan word.

Ekonomiese impak

Die militêre eskalasie het onmiddellike wêreldekonomiese gevolge gehad, berig die BBC. Brent-ruoliepryse het met meer as 10% gestyg en hul hoogste vlakke sedert Januarie bereik. 

Hierdie styging weerspieël kommer dat enige langdurige konflik tussen Israel en Iran – albei in ’n energie-kritiese streek – wêreldwye olievoorrade kan ontwrig.

Stygende oliepryse sal waarskynlik wêreldwyd gevoel word, en kan die koste van brandstof en voedsel verhoog.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.