On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Yellow Door

As jou brein breek #1: Breinskade

───   MARGARINE 06:00 Fri, 22 Mar 2013

As jou brein breek #1: Breinskade | News Article

Margarine is fisies bietjie herverpak, maar sy bly ‘n mens. Ons almal se bloed is rooi, ons almal word bang, word honger, nies, lag, frons, het een hart, brein, blaas, sweetgaatjies, toonhare, are.

Die brein is ‘n baie delikate pienk spons. Dit kan ‘n ongekende hoeveelheid inligting absorbeer, maar dit kan ook so maklik soos spookasem uitmekaar uit skeur. Dit is hoekom dit omsluit word met 'n helmet van been. Nou, my helmet het gekraak van my een oor tot by my ander oor. My brein het soos ‘n klein, pienk bolletjie jelly heen en weer gericochet in my kop. Met die meerderheid hoofbeserings accelerate en decelerate die brein in die skedel en bots dan soos ‘n stampkarretjie teen die binnekante daarvan. Imagine as jy ‘n stukkie deeg in ‘n glas bottel sit en wild op en afskud. Dit sal skeur, squash en misvormd agterbly. My brein het rof rondgeskommel en is opgefrommel en nou het ek skade. Breinskade.




Ek het skade aan my brein en nou het ek nie meer spoeg nie (xerostomia).

Ek het skade aan my brein en nou praat ek moeisaam (dysarthria).

Ek het skade aan my brein en nou is ek skeel (strabismus).

Ek het skade aan my brein en nou kan ek nie meer huil nie (xerophthalmia).

Ek het skade aan my brein en nou bly ek in ‘n onbekende lyf waarvan die setup redelik intimidating is. Ek sou nooit kon raai op hoeveel maniere ‘n mens se brein en lyf kan breek nie. Dis scary, baie interessant, maar verskriklik scary.

***Let wel: Die volgende stukkie is redelik boring (if I say so myself) so voel vry om te skip tot by my apologie in die volgende paragraaf.***

Breinskade word veroorsaak deur een of ander traumatiese impak teen die kop. Die trauma kan wissel van ‘n geweerskoot tot ‘n harde hou met ‘n krieketkolf tot ‘n hengse stamp as gevolg van 'n karongeluk. So ‘n geval word ‘n Acquired Brain Injury (ABI) genoem. Ekself het ‘n grootskaalse Traumatic Brain Injury (TBI) opgedoen as gevolg van die spoed waarteen die vragmotor my kar ‘n uitklophou gegee het. Mens sê iemand het localized brain damage wanneer die skade beperk is tot ‘n spesifieke area soos as ‘n koeël deur die breinweefsel skeur of in die geval van ‘n beroerte. ‘n Ander tipe breinskade is degenerative braindamage - dis iets soos Alzheimer’s of Parkinson’s disease. Beskadiging kan ook plaasvind as gevolg van tumours; vergiftiging; hypoxia (‘n tekort aan suurstof aan die brein) asook dwelm en alkohol misbruik. Die maniere waarop die brein kan kneus is so uiteenlopend en vast dat ek, as ‘n leek, dit nou redelik lomp verduidelik het. As my neurochirurg of psigiater hier sou lees, sou hulle tien teen een uitbars van die lag. Maar toe ek vir Elton Bloye (my kliniese sielkundige wat spesialiseer in Neuropsychology) gevra het hoekom die average Joe (soos ek) so ongelooflik min van breinbeserings (en dus breinskade) af weet om mee te begin, het hy geantwoord: “Brain injury is often called the silent injury because it is not as obvious as a spinal cord injury, but it affects behaviour to a large extent.” Spinal cord injuries veroorsaak tetraplegia (quadriplegia) of paraplegia. Die manier waarop die liggaam gebreek is, is baie meer opsigtelik as in die geval van 'n breinbesering. Die skade is voor die hand liggend en daarom makliker verstaanbaar.

Maar ek skuld jou ‘n GROOT apology. Ek het in ‘n vorige blog genoem dat mens breinskade in hoofsaaklik twee kategorieë kan opdeel. Ek het gedink dit is of swart of dit is wit, dis dag of nag, links of regs - óf jy is kognitief (intellektueel) geaffekteer óf jy is fisies geaffekteer. Ek het gedink dis ‘n geval van either the one or the other. Dit is toe nie so simplisties nie…

Ek het ‘n huge braindamage blunder begaan. Daai was toe al die tyd net twee van die VIER gevolge wat uit breinskade kan spruit. Breinskade kan ‘n persoon fisies; emosioneel; sensories of kognitief affekteer. Of enige kombinasie van die vier. In my geval het ek drie van die vier gevolge. Fisies sukkel ek om te loop; my emosies yo-yo meer as ‘n swanger vrou s’n en ek kan nie in koue water swem nie, want die regterkant van my lyf is spasties en dus sensitief vir vinnige temperatuursverskille. Kognitief is ek so skerp soos ‘n minora – ek het obviously my blonde oomblikke, but mentally I’ve never felt more alive.

Die hele affêre is toe BAIE meer gekompliseerd as wat ek ooit sou kon raai. Ek weet actually nie hoekom dit my verbaas nie though. Ek moes eintlik gewéét het dat enige iets met die brein ALTYD meer complicated is as wat mens OOIT kon imagine.

Die meerderheid mense sien breinskade as hierdie aaklige, selfs disgusting,'ding' wat vermy moet word. Die grootskaalse misconception dat breinskade mens stroop van jou IK en alle ander eienskappe wat jou voorheen essentially jy gemaak het, is verwronge, verkeerd en ongelooflik lafhartig. Dit is genuine iets wat ek wens ek geweet het voor my ongeluk – die verskillende en verreikende effekte van breinskade. Maar nou leer hulle mens op skool van die amoeba en die paringstegnieke van die flippen sprinkaan en die name van al die verskillende tipes wolke en hoe om reg te spel. O en moenie vergeet om binne die lyne in te kleur nie! Jy wil mos ‘n goue sterretjie hê of hoe? Gmf! Asof dit jou enigsins gaan beskut teen die ongenaakbaarheid van die lewe. Skool berei mens voor om onvoorbereid te wees op die lewe se curveballs. ‘Hulle’ leer mens niks oor breinskade of enige ander disabilities nie. Niks oor die donkerkant van die lewe nie. Niks oor hoe om mens te wees nie.

Wanneer ‘n eier kraak kan jy haar nie weer terugkry in haar dop nie. Maar sy bly nog steeds geel. Ek bloei nog steeds rooi. Ek is fisies bietjie herverpak, maar ek bly ‘n mens. Ek wil so graag net vir almal gil dat ons almal - kraakvars en verfrommelde mense - ons ALMAL bly human beings. Ons almal se bloed is rooi, ons almal word bang, word honger, nies, lag, frons, het een hart, brein, blaas, sweetgaatjies, toonhare, are. Ongeag taal of ouderdom of kleur, ons almal raak uitasem uit, hetsy as gevolg van opwinding of as gevolg van vrees. Ek wil mense herinner om die mens agter die benaming – dokter, dominee, tannie, oom, onderwyser, gestremde - te sien. Kyk verby my(gebreekte) dop en sien my raak.

“Is there any other way to be? I mean, this is it. This is my body, my soul; I gotta live with it. I'd better get comfortable. I plan on taking it for a long ride.” Cecil Castellucci

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.