On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Van konfrontasie tot gesprek: Ramaphosa en Trump vergader

───   11:37 Thu, 22 May 2025

Van konfrontasie tot gesprek: Ramaphosa en Trump vergader | News Article
Die Suid-Afrikaanse afvaardiging vergader met pres. Donald Trump in die Withuis. Foto: GCIS

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging na Amerika is opgeruimd oor privaat gesprekke Woensdagaand (21/5) met die Amerikaanse pres. Donald Trump, wat gevolg het op ’n konfrontasie voor die media in die Withuis.

Tydens dié segment is die ligte gedemp en ’n televisiestel ingebring om ’n video te speel waarin die EFF-leier, Julius Malema, “Kill the Boer” voor ’n vol stadion sing, asook van die MK-leier, Jacob Zuma. 

Beeldmateriaal is ook gewys van wit kruise wat moorde op boere simboliseer. Trump het herhaaldelik bewerings gemaak oor aanvalle op wit boere in Suid-Afrika en dit as “volksmoord” beskryf.

“Laat ek dit duidelik maak … wat u gesien het, die toesprake wat gemaak is – dit is nie regeringsbeleid nie.

“Ons het ’n multivlak-demokrasie in Suid-Afrika … Ons regeringsbeleid is volkome teen dit wat hy gesê het … Hulle is ’n klein minderheidsparty wat grondwetlik toegelaat word om te bestaan,” het pres. Cyril Ramaphosa verduidelik.

Trump het geantwoord dis sleg as ’n mens ’n stadion met honderdduisend mense daarin sien, want dit beteken dis meer as net ’n klein beweging. 

“Dis ’n redelik groot beweging in Suid-Afrika. Dit moet dus opgelos word. Dit sal die einde van die land wees,” het Trump gesê. 

Ramaphosa het ’n hooggeplaaste afvaardiging op ’n werksbesoek aan Washington gelei in ’n poging om beskadigde diplomatieke betrekkinge te herstel. Die afvaardiging se doel was om wanpersepsies aan te spreek, diplomatieke bande te versterk, en konkrete ekonomiese en tegnologiese ondersteuning te vra.

Ramaphosa het tydens die gespanne interaksie voor die media beklemtoon dat misdaad in Suid-Afrika mense van alle rasse affekteer. “Daar is misdaad in ons land,” het hy gesê.

“Mense wat ongelukkig deur misdaad doodgemaak word, is nie net wit mense nie. Die meeste is swart mense.” Hy het Trump egter verseker dat haatspraak nie ’n beleid is wat met sy administrasie ooreenstem nie.

“Ons bly sê daar is ’n veiligheidsprobleem … hierdie misdadigheid. En wanneer die ekonomie nie groei nie, wanneer daar armoede en werkloosheid is, dan kry ons misdaad weens hierdie sosiale probleme,” het Ramaphosa verduidelik.

John Steenhuisen, Suid-Afrika se minister van landbou, het deel uitgemaak van Ramaphosa se afvaardiging. Steenhuisen en Parks Tau, die minister van handel, nywerheid en mededinging het Maandag met die Amerikaanse handelsverteenwoordiger vergader, met een van die fokuspunte op die toekoms van die Wet op Afrika se Groei en Geleenthede (Agoa), wat tans deur die Amerikaanse Kongres hersien word.

Steenhuisen het die versterking van landbouhandelsbetrekkinge en die bevordering van inklusiewe, wedersyds voordelige ekonomiese uitkomste beklemtoon.

Ander lede van die Suid-Afrikaanse afvaardiging het Ramaphosa ondersteun. “Ons het te veel moorde, maar dit is regoor die spektrum. Dis nie net wit boere nie. Ons het tegnologiese hulp nodig. 

“Ons het Starlink nodig by elke polisiestasie. Ons het hommeltuie nodig,” het Johann Rupert, voorsitter van Remgro, gesê.

Twee Suid-Afrikaanse gholfspelers wat Ramaphosa tydens die ontmoeting met Trump gesteun het, is Ernie Els en Retief Goosen. Albei is internasionaal erkende gholfspelers en lede van die Golf Hall of Fame.

Els en Goosen was in Washington vir die Senior PGA-kampioenskap en het die geleentheid benut om die VSA aan te moedig om Suid-Afrika te ondersteun in die verbetering van omstandighede vir boere, insluitend die aanspreek van bedreigings van geweld.

Els het eenheid beklemtoon en herinner aan Nelson Mandela se pogings om postapartheid-Suid-Afrika deur middel van sport te versoen. Trump het gesê Els het sy toespraak byna beter gedoen as wat hy gholf speel, “wat moeilik is”, het hy bygevoeg.

‘Moontlikheid van groter ekonomiese samewerking’

“Die probleem in Suid-Afrika gaan nie noodwendig oor ras nie, maar oor misdaad,” het Zingiswa Losi, Cosatu se eerste vrouepresident, bygevoeg. “Swart mans en vroue in ons landelike gemeenskappe is net soveel slagoffers van brutale misdade as enigiemand anders.

“Ons is hier om te sien hoe ons kan saamwerk, werklik te praat oor beleggings, maar ook hoe julle ons kan help met die tegnologie wat ons benodig,” het Losi gesê.

Die twee leiers het later agter geslote deure vergader. Op ’n latere mediakonferensie het Ramaphosa die klem geplaas op voortgesette dialoog en die moontlikheid van groter ekonomiese samewerking, insluitend die VSA se betrokkenheid by die G20 en ’n nuwe handels- en beleggingsraamwerk.

Of Trump die G20-beraad in November vanjaar in Suid-Afrika gaan bywoon, sal tyd leer.

Ramaphosa het ná sy ontmoeting met VSA-president Donald Trump ’n duidelike verbintenis verkry dat gesprekke tussen die twee lande sal voortgaan, ten spyte van ’n gespanne interaksie tydens hul vergadering in die Withuis.

“Daar sal voortgesette gesprekke wees tussen Suid-Afrika en die Verenigde State, veral op die vlak van handel en nywerheid … Ek is baie tevrede dat daar ’n vaste verbintenis is dat ons gaan aanhou om betrokke te wees. Daar is geen onttrekking nie.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.