Business
#SakeUur - “Goeie opbrengs met goeie pryse” – NWK─── 18:27 Thu, 08 Jul 2021

Dit is ’n unieke jaar in terme van oesinsameling; graan is ongeveer ’n maand tot ’n maand-en-’n-half vroeër oesgereed en die tempo waarteen graan ontvang is, was ook baie vinniger as vorige jare.
Dis aldus Nico Pieterse, Senior Bestuurder Graan by NWK, wat verder meld dat ongeveer 90% van die sonneblomoes reeds gelewer is met bykans alle sojaboon wat ook gestroop is. Vyf-sewentig persent mielies is reeds by die silo’s gelewer.
OFM Inhoudsredakteur, Elzette Boucher-Krüger, het met Pieterse gesels oor die verloop van die leweringseisoen.
Luister na die potgooi onder.
NWK tree hoofsaaklik op as graanhandelaar in Noordwes. Graanverhandeling spesialiseer in die verhandeling van wit- en geelmielies, sonneblom, koring, sojabone, sorghum en droëbone. Graan word van graanprodusente aangekoop deur middel van ’n verskeidenheid doelmatige kontrakte en/of skemas. Die aangekoopte graan word as verhandelbare voorraad gedra totdat dit aan ander handelaars of verwerkers verkoop word.
‘n Verskeidenheid verkoopkontrakte word aan graankopers beskikbaar gestel op ‘n ex-silo of Milldoor-basis. NWK Logistics speel 'n belangrike rol in die vervoer van graan vanaf die plase na silo's en verwerkers.
Die graan word deur NWK Silodienste ontvang, hanteer, geberg en versend. Ten einde die risiko van prysverandering te bestuur, word voorraad en kontrakte deur middel van termynkontrakte op die JSE verskans. Vir dié doel is NWK 'n lid van die JSE se landboukommoditeite-beurs.
Die graanindustrie en -mark is ’n dinamiese omgewing en graanverhandeling bied omvattende toegang tot die mark en markinligting aan produsente ten einde hul volhoubaarheid te verseker. Kommunikasie word deur ‘n verskeidenheid platforms bestuur wat onder meer persoonlike kontak, sagtewaretoepassings en multimedia insluit.
NWK besit 36 graansilo’s in Noordwes wat dit vir produsente gerieflik maak om die aflewering, opberging en bemarking van hul graan by een plek te doen. NWK fasiliteer ’n verskeidenheid graankontrakte aan produsente wat die bemarking van hul graan na behoefte doen. Deur NWK Commodity Brokers kry verkopers toegang tot mark- en markprysinligting. Op dié manier help NWK produsente met die verskansing van hul graanpryse en met prysbestuur.
Lees meer by: https://www.nwk.co.za/produkte-dienste/?lang=ZA#marktoegangs
#SakeUur - “Goeie opbrengs met goeie pryse” – NWK: