Business
Verbruikers moet hulself voorberei op stygende lewenskoste─── BAMBATHA GIKO 12:07 Thu, 20 Oct 2022
Met die brandstofpryse wat na verwagting in November gaan styg, behoort verbruikers hulself voor te berei op verhoogde finansiële druk weens die stygende lewenskoste.
Volgens die hoofekonoom van die Efficient-groep, Dawie Roodt, sal enige tipe skok, byvoorbeeld 'n styging in brandstofpryse, 'n negatiewe impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê.
Roodt voeg by dat die staat geen vermoë het om geld te bestee om mense in die huidige ekonomiese klimaat te ondersteun nie en doen 'n beroep op die regering om 'n omgewing te skep waar mense meer oop is om sake met die private sektor te doen.
“Ongelukkig is die realiteit dat die staat in Suid-Afrika besonders oneffektief is en in baie gevalle net eenvoudig korrup is en dat dit nie 'n baie gunstige omgewing vir die private sektor skep nie,” sê Roodt.
Gegewe die huidige ekonomiese klimaat van Suid-Afrika, is baie verbruikers in die skuld met die jongste statistieke oor siviele dagvaardings vir skuld wat 'n toename van 13,7% toon, en die waarde van siviele vonnisse wat vir skuld aangeteken is, het met 6,9 % toegeneem, terwyl die aantal siviele vonnisse met 2,7% afgeneem het in vergelyking met verlede jaar Julie 2021. Dit is volgens die jongste statistieke van siviele sake vir skuld wat in Julie 2022 deur Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) vrygestel is.

Die grootste bydraers tot die verhoging van 13,7% in siviele dagvaardings wat uitgereik is, was:
- ‘ander’ skuld (wat 7,1 persentasiepunte bydra);
- dienste (wat 3,7 persentasiepunte bydra); en
- geld geleen (dra 2,8 persentasiepunte by) – sien Tabel 2.

Die hoofbydraers tot die verhoging van 6,9% was siviele vonnisse wat verband hou met:
- geld geleen (wat 5,7 persentasiepunte bydra);
- huur (dra 2,6 persentasiepunte by); en
- promesse [promissory note] (dra 1,9 persentasiepunte by)

Die grootste negatiewe bydraers tot die afname van 2,7% was siviele vonnisse wat verband hou met:
- dienste (dra -4,6 persentasiepunte by); en
- 'ander' skuld (dra -2,1 persentasiepunte by)

Roodt sê een van die grootste bydraers tot verbruikerskuld is te wyte aan die feit dat Suid-Afrikaners finansieel ongeletterd is – mense kry nie voldoende opleiding wat finansies betref nie, wat uitstaan as ’n groot leemte in Suid-Afrika se huidige onderwysstelsel.
Om meer skuld te vermy en om hulself in hierdie huidige ekonomiese klimaat te onderhou, word verbruikers versoek om te probeer beplan vir hierdie moeilike tye, te beplan vir onvoorsiene uitgawes soos 'n styging in rentekoerse en 'n moontlike styging in brandstofpryse, voeg Roodt by.
“As jy werk het, sorg dat jy jou werk hou. En maak seker as jy 'n groot uitgawe wil aangaan dat jy byvoorbeeld daarvoor gespaar het,” sê hy.
