On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Business

Tupperware sê sy partytjiedae is dalk verby

───   09:42 Thu, 13 Apr 2023

Tupperware sê sy partytjiedae is dalk verby | News Article

Tupperware, die ikoniese Amerikaanse vervaardiger van plastiekhouers, het gewaarsku dat daar wesenlike twyfel is oor sy vermoë om sy bedrywighede voort te sit tensy hy dringend finansiering kan bekom.

Die maatskappy, wat 77 jaar gelede gestig is, se aandeelprys het die afgelope 12 maande met 95% gedaal. Dit word toegeskryf aan meer innoverende mededingers wat hul produkte aan jonger mense op TikTok en Instagram bemark, volgens ’n berig deur The Guardian.

Reuters berig dat tensy Tupperware sy krediteure kan paai of nuwe beleggers kan vind, die maatskappy dieselfde paadjie sal stap as ander wat die knie moes buig voor e-handel.

Tupperware maak staat op direkte verkope en het sowat drie miljoen onafhanklike verkoopslede om sy produkte in byna 70 lande te versprei. In vergelyking met sy bloeitydperk, het klante deesdae meer opsies om kos te stoor, meer plekke om van te koop en minder tyd vir Tupperware-partytjies.

Sy poging om homself aan ’n jonger mark te verkoop, was ook nie geslaagd nie, berig BBC.

‘Sake gaan voort,’ sê Tupperware Suider-Afrika

Tupperware Suider-Afrika sê egter dat die huidige finansiële krisis wat die globale maatskappy raak, geen impak op plaaslike verkoopspanne het nie, berig IOL.

Volgens ’n verklaring deur Tupperware Suider-Afrika sal die maatskappy voortgaan om nuwe produkte te verskaf. Plaaslike verkopers is aangeraai om hul streekverkoopsbestuurders te skakel indien hulle enige verdere vrae het.

Buiten sy direkte verkopers, verkoop Tupperware ook sy goedere op sy webwerf en het onlangs sy produkte in die Amerikaanse kleinhandelgroep Target begin verkoop in ’n poging om jonger kopers te lok, berig BBC.

Neil Saunders, ’n ontleder van die konsultasiemaatskappy GlobalData, sê Tupperware se produkte en verspreiding het versuim om saam met die tye te verander.

Hy sê die metode om regstreeks aan jonger klante deur Tupperware-partytjies te verkoop “bou nie bande nie” en dat selfs ouer klante wat Tupperware in sy bloeityd onthou, aanbeweeg het – klante kan nou goedkoper of meer modieuse houers in winkels of aanlyn koop.

“Jonger klante verkies ook meer omgewingsvriendelike produkte soos byewaspapier om kos vars te hou en wat weer en weer gebruik kan word.”

Tupperware het 'n oplewing tydens die Covid-pandemie ervaar toe mense tuis vir hulself gekook het, maar verkope het sedertdien gedaal. Sy arbeidsmag van direkte verkopers het in 2022 met 18% gekrimp vergeleke met die vorige jaar.

Tupperware loop die gevaar om van die New Yorkse aandelebeurs gedenoteer te word omdat hy nog nie sy jaarverslag ingedien het nie. Die maatskappy het gesê hy werk saam met finansiële adviseurs om meer geld en beleggings te verseker. Dit word ook ondersoek of dit eiendom kan verkoop en poste kan sny.

‘Tupperware se handelsnaam steeds bekend’

Saunders sê as die maatskappy tien jaar gelede veranderinge aangebring het – soos om in winkels of deur groothandel te verkoop – dit dalk nou in 'n ander posisie sou wees. “Die handelsnaam is steeds baie bekend. Die maatskappy kan 'n beroep doen op 'n kleinhandelreus soos Walmart of selfs Amazon om sy ware te verkoop.”

The Guardian berig die laaste Tupperware-partytjie in Brittanje is in 2003 gehou toe die maatskappy kontrakte beëindig het met die sowat 1 500 mense wat sy produkte daar verkoop het.

Tupperware is in 1946 deur Earl Tupper, 'n Amerikaanse chemikus, gestig nadat hy geïnspireer is deur die ontwerp van verfblikdeksels. Die maatskappy het in die 1950's en 1960's bekend geraak toe mense Tupperware-partytjies in hul huise gehou het om plastiekware te verkoop.

OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.