Business
80% van Suid-Afrikaners beplan om ná aftrede te werk – opname─── 14:57 Thu, 22 Jun 2023
Een van die land se grootste banke het ’n beroep op die regering gedoen om aftreebeplanning ’n nasionale prioriteit te maak.
FNB het gereageer op die resultate van sy aftree-opname, wat bevind het dat minstens agt uit tien Suid-Afrikaners beplan om aan te hou werk ná die aftree-ouderdom.
Dit is omdat hulle nie genoeg gespaar het vir aftrede nie.
Die bevindinge toon dat minstens vier uit tien mense beplan om hul bates te verkoop of staatmaak op maatskaplike toelaes van die regering.
Sizwe Nxedlana van FNB sê 86% het hul spaarrekening gebruik om vir aftrede te beplan.
Hy sê baie intreevlak-, middelinkomste- en opkomende welvarende verdieners sal tydens aftrede sukkel om hul huidige leefstyl te handhaaf.
“Terwyl ons land voortgaan om strukturele hervormings toepas om toegang tot aftreespaargeld te verbeter en potensiële misbruik van aftreefondse te voorkom, is daar ’n dringende behoefte om verbruikers van toeganklike oplossings te voorsien om hulle te help om beter te beplan vir aftrede.
“Ons moet ook aftreegesprekke begin en ’n spaarkultuur skep van die eerste dag wat ons inkomste begin verdien, binne die beperkings van wisselvallige ekonomiese toestande wat steeds inkomste beïnvloed.”
