On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Musieklegende van Potchefstroom ‘verhuis na sy hemelse woning’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:06 Thu, 02 May 2024

Musieklegende van Potchefstroom ‘verhuis na sy hemelse woning’ | News Article
Prof. Hennie Coetzee. Foto verskaf

“Niemand kon klavier gespeel het soos hy nie. Tot op sy laaste het sy vingers gevlieg oor die klawers.”

Potchefstroom neem Saterdag afskeid van ’n geliefde musikus wanneer die troosdiens van prof. Hennie Coetzee in die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Die Bult gehou word om sy lewe en musikale nalatenskap te vier.

Die pianis, orrelis en pedagoog is Sondag (28/4), kort ná sy 90ste verjaardag, oorlede. Hy was dekades lank ’n staatmaker van die Departement van Musiek van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO waar honderde studente klavier en orrel by hom studeer het. Hy het min of meer elke orrelis in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika onderrig. Hy was ook orrelis van die Gereformeerde Kerk Noordbrug.

Coetzee was een van die Coetzee-broers wat die PUK gedien het. Sy ouer broer was prof. P.J. Coetzee van die Fakulteit Teologie. Sy ander broer, prof. Hannes Coetzee, was professor in Latyn. Sy suster was die moeder van die vorige registrateur, prof. C.F.C. van der Watt.

Benewens sy werk as onderwyser in klavier en orrel, en as dosent in musiekgeskiedenis, het hy talle onvergeetlike optredes as solis sowel as ensemblespeler gelewer, en het hy ’n onmisbare rol as eksaminator en beoordelaar gespeel, plaaslik en elders.

Hy word oorleef deur vyf kinders, onder wie die tjellis Human Coetzee van die Musiekskool aan die NWU. Sy kleinseun Mathys is ’n prokureur in Potchefstroom, maar behou die gesinstradisie deur ook tjello te speel.

Prof. Hennie Coetzee. Foto verskaf

Prof. Coetzee en sy vrou, Cato, was gesiene mense op die Bult met ’n huis vol antieke ware reg by die ingang van die PUK. Nadat sy oorlede is, het hy steeds daar gewoon. “By ons oumensbyeenkomste by GK Bult kon hy en Cato vir ons die interessantste oudhede wys wat hulle wêreldwyd versamel het,” vertel ’n vriend, Ponti Venter.

Albertje Fouché (79), wat Coetzee op universiteit ontmoet het en ’n jare lange vriendin van die egpaar, beskryf Coetzee as ’n waardige man wat ’n mens altyd deur ’n ring kon trek. “Maak nie saak waarheen ons gegaan het nie, Herman het altyd ’n deftige pak met ’n strikdas en goue knope aangehad.

“Niemand kon klavier speel soos hy nie. Tot op sy laaste het sy vingers gevlieg oor die klawers.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.