On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

International

Nog ’n Amerikaanse staat se onderwysers mag wapens dra

───   09:06 Thu, 25 Apr 2024

Nog ’n Amerikaanse staat se onderwysers mag wapens dra | News Article
Slegs 16 van die 50 state het wette wat onderwysers verbied om gewere te dra. Foto: Education Week

“Meer as die helfte van opvoeders glo dit sal skole minder veilig maak.”

Nog ’n Amerikaanse deelstaat het ’n wetsontwerp aanvaar wat onderwysers toelaat om handwapens in die klas te dra.

Wetgewers in Tennessee het vandeesweek ’n wetsontwerp goedgekeur wat skoolhoofde, onderwysers en ander skoolpersoneellede toelaat om versteekte handwapens te dra, ’n jaar ná ’n dodelike skietery by ’n laerskool in die staat.

‘Moet onderwysers wapens dra?’

Tennessee het hewige debatte gevoer oor wapenwette sedert verlede jaar se skietery by ’n Nashville-skool waar drie kinders en drie volwasse personeellede dood is.

Die wetgewing stel verskeie vereistes vir skoolwerknemers om toegelaat te word om handwapens te dra, insluitend die voltooiing van 40 uur se “basiese opleiding in skoolpolisiëring” bykomend tot 40 uur opleiding per jaar.

Meer as die helfte van alle Amerikaanse deelstate laat onderwysers of ander skoolwerknemers toe om vuurwapens op die skoolterrein te dra, volgens die Giffords Law Center, ’n wapenveiligheidsgroep.

Slegs 16 van die 50 state, en die Distrik Columbia, het wette wat onderwysers verbied om vuurwapens te dra – Alabama, Kalifornië, Delaware, Illinois, Louisiana, Maine, Maryland, Nebraska, New York, Noord-Carolina, Noord-Dakota, Rhode Island, Virginië, Washington, Wes-Virginië en Wisconsin.

Skietvoorvalle by skole is al ’n algemene verskynsel in Amerika, asook pleidooie vir strenger wapenbeheermaatreëls in die nasleep daarvan. Die druk om onderwysers te bewapen neem toe aangesien dit ’n kwessie van sekondes is wat saak maak tydens ’n skoolskietery. 

Wat as personeellede kon ingegryp het voordat die polisie opgedaag het?

Oefenlopies vir ’n skietery in Amerikaanse skole is algemeen vir leerders en onderwysers – klaskamerdeure word gesluit en blindings word toegetrek voordat hulle stil-stil wegkruip. Andersins is daar nie veel wat hulle kan doen nie. Hulle moet maar “wag en hoop” dat hulp van die polisie gou sal kom,” het supt. John Scheu van Columbus, Ohio, gesê. 

Tensy daar personeellede is wat opgelei is om in te gryp.

“Wanneer jy praat oor ’n aktiewe skietbedreiging, is dit ’n kwessie van sekondes, nie ’n kwessie van minute nie,” sê Scheu, wat sedert Julie 2020 as superintendent in die distrik gedien het, “en dit is 'n kwessie van lewe en dood.”

Suid-Dakota was die eerste staat wat wetgewing aanvaar het sodat opvoeders in Maart 2013 bewapen kon word.

Education Week berig egter ten spyte van periodieke druk deur politici en gemeenskapsgroepe om onderwysers met vuurwapens toe te rus, meen meer as die helfte van opvoeders om dit te doen, sal skole onveiliger maak.

In ’n lukrake opname deur die RAND Corporation het slegs ongeveer ’n vyfde van onderwysers gesê die bewapening van onderwysers sal skole veiliger maak, 26% was neutraal oor die kwessie en die oorblywende 54% het gesê die verandering sal skole onveilig maak.

OFM Nuus mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.