Business
Toerismesektor kan rekordgetal werke skep─── 09:43 Wed, 28 May 2025

Nuwe data van die Wêreldraad vir Reis en Toerisme (WTTC) toon dat Suid-Afrika se reis-en-toerismesektor besig is om ’n belangrike mylpaal te bereik.
Dit kan vanjaar die meeste werksgeleenthede tot dusver ondersteun; tog dui ander data daarop die sektor verkeer steeds in ’n herstelstadium.
Volgens die jongste Economic Impact Research (EIR) van die WTTC sal die toerismesektor vanjaar na verwagting 1,9 miljoen werksgeleenthede ondersteun – meer as in 2019 – wat dit die grootste getal tot dusver maak.
Toeriste is op soek na unieke ervarings, soos dié NG kerkbasaar op Fouriesburg. Foto: Morné van Rooyen
Die sektor sal dus verantwoordelik wees vir sowat 11,3% van alle werksgeleenthede in die land en onderstreep sy rol as kernwerkgewer en bron van ekonomiese geleenthede.
Plaaslike besteding deur binnelandse reisigers toon steeds sterk veerkragtigheid. Verwagte besteding sal vanjaar op R445 miljard te staan kom, 3,8% hoër as in 2019, die laaste “normale” jaar voor die Covid-19-pandemie.
Ten spyte van hierdie bemoedigende tendense in werkskepping en binnelandse besteding bly die sektor se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) en internasionale besoekersbesteding onder die vlakke van voor die pandemie.
Die Vrouemonument in Bloemfontein lok ook buitelandse besoekers. Foto: Argief
Die algehele bydrae van die toerismesektor tot die ekonomie word op R659,8 miljard geskat, wat gelyk is aan 8,9% van die BBP, maar steeds 3,4 persentasiepunte laer as die 2019-hoogtepunt. Buitelandse besoekers sal na verwagting R128,4 miljard bestee, R37,7 miljard minder as voor die pandemie.
“Suid-Afrika se toerismesektor begin stadigaan herstel,” sê Julia Simpson, president en uitvoerende hoof van die WTTC. “Die werksgeleenthede neem toe en wys die enorme menslike impak van groei in dié bedryf.
“Suid-Afrika se G20-voorsitterskap in 2025 skep ’n unieke geleentheid om toerisme sentraal in die nasionale agenda te plaas. Die WTTC is trots daarop om saam met minister Patricia de Lille aan die G20-proses te werk, insluitend ’n beleggingsberaad in September.”
Kerktoerisme is ’n klein maar groeiende bedryf waar besoekers kerke soos die Tweetoringkerk in Bloemfontein besoek om dit af te neem en meer oor die geskiedenis van die gebou te wete te kom. Foto: Morné van Rooyen
In 2024 het die reis-en-toerismesektor sowat R618,7 miljard tot Suid-Afrika se ekonomie bygedra – 9,4% onder 2019 se vlakke. Die sektor het egter reeds 1,8 miljoen mense in diens gehad. Buitelandse besoekers het R116,5 miljard bestee, terwyl binnelandse toerisme R430 miljard bygedra het.
’n Dekade van geleenthede
Die WTTC glo dat Suid-Afrika met die regte beleidsrigtings en sterker samewerking tussen die openbare en private sektor – onder leiding van De Lille – ongekende groei in toerisme kan ontsluit. Die organisasie voorspel dat die sektor teen 2035 nog 620 000 werksgeleenthede sal byvoeg, wat die totaal op 2,6 miljoen sal bring – oftewel 13,8% van die nasionale arbeidsmag.
Teen daardie tyd kan die sektor se ekonomiese bydrae R911,7 miljard bereik – 10,3% van die BBP.
OFM Nuus mvh