On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Business

Is die braaibroodjie ’n beter aanwyser van voedselinflasie?

───   OLEBOGENG MOTSE 07:00 Wed, 30 Jul 2025

Is die braaibroodjie ’n beter aanwyser van voedselinflasie? | News Article
Johann Biermann het 18 maande gelede die Braaibroodjie-indeks geskep. Foto ter illustrasie

Die prys van ’n braaibroodjie is in 2025 3,7% hoër as in 2024.

Daar woed al lank ’n debat oor voedselinflasie in Suid-Afrika. 

Die meeste verbruikers ervaar dit as veel hoër as wat Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se syfers aandui. Kenners meen die groot verskil spruit uit die wye reeks items in die mandjie wat Stats SA gebruik om inflasie te meet – en dis waar die Braaibroodjie-indeks inkom.

Die indeks is 18 maande gelede deur Johann Biermann, ’n beleggingsportefeuljebestuurder van Kaapstad, geskep. Hy hou maandeliks die prys van al die bestanddele vir ’n braaibroodjie dop.

Biermann kyk spesifiek na die pryse van witbrood, kaas, tamaties, uie, sout, peper en blatjang (wat deur sommige mense uitgelos word wanneer hulle hul geliefde braaibroodjie maak). Dit verskil merkbaar van Stats SA se mandjie van 391 produkte wat veel meer as net voedsel bevat.

Hy sê in OFM Sake-Uur dat hy, as ’n aanhanger van alternatiewe statistiek, bloot wou weet hoeveel duurder ’n braaibroodjie die afgelope jaar geword het. Die idee het tydens ’n Desember-braai by hom posgevat.

Die prys van ’n braaibroodjie: Junie 2025

Volgens Biermann het ’n braaibroodjie op 30 Junie 2025 gemiddeld R21,14 gekos. Dit is 2% goedkoper as die vorige maand, hoofsaaklik weens ’n daling van 3,1% in die prys van cheddarkaas en ’n daling van 2,5% in uiepryse. 

Hy sê egter dat geurmiddels effens duurder geword het: sout en peper het albei met 2,1% gestyg.

In geheel gesien is die braaibroodjie nou 3,7% duurder in 2025 as in 2024. Biermann sê niemand wil méér betaal vir hul braaibroodjie nie, maar dié styging is ’n goeie middeweg tussen algehele inflasie (wat met 2,4% tot dusver in 2025 gestyg het) en voedselsinflasie, wat op 4,1% staan (tot en met Junie).

Braai-indeks op pad

Biermann ontwikkel tans ’n meer omvattende Braai-indeks, wat items soos vleis, vuurmaakmiddels bier en natuurlik braaibroodjies sal insluit.

Is die braaibroodjie ’n meer realistiese beeld van inflasie?

Volgens Guy Holwill, HUB van Fairbairn Consult, voel die Braaibroodjie-indeks empiries meer akkuraat: “Uit die grafiek is dit duidelik dat dié indeks sedert 2017 omtrent dubbel so vinnig gestyg het as die verbruikersprysindeks (VPI), wat wys hoe belangrik die samestelling van daardie mandjie is!”

Johann stem saam en voeg by dat Stats SA se mandjie van goedere baie wyd is – en dat talle Suid-Afrikaners nie met al daardie produkte kan identifiseer nie. Inflasie, sê hy, verskil van mens tot mens, afhangend van leefstyl en behoeftes.

Byvoorbeeld: Brandstofinflasie raak nie ’n persoon wat van die huis af werk so erg soos iemand wat elke dag pendel nie. Hy sê die Braaibroodjie-indeks gebruik bekende en alledaagse bestanddele wat mense maklik verstaan – en dit gee aan hulle ’n tasbare prentjie van inflasie.

Stats SA se mandjie-items

Aan die begin van 2025 het Stats SA 71 nuwe produkte tot hul mandjie gevoeg, 53 produkte verwyder en 29 herrangskik (deur hulle byvoorbeeld te kombineer, te verdeel of te herklassifiseer). Die totale aantal items is nou 391, teenoor 396 voorheen.

Nuwe voedselprodukte in die mandjie sluit basmatirys, vleisbene, hamburgerpatties, hoendernuggets en gereedgemaakte etes. Voorbeelde van produkte wat uitgehaal is, sluit in klaargemengde meel, gegeurde melk, bevrore skyfies en gemaalde koffie of bone.

Opvoedkundige uitgawes in die nuwe mandjie

Die nuwe mandjie dek nou ook ’n wyer reeks opvoedkundige uitgawes. Byvoorbeeld, in die klere-afdeling word daar nou spesifiek na skooldrag gekyk. 

Skoolvervoer en naskoolse sentrums is ook bygevoeg. Die mandjie laat nou selfs toe dat opvoedkundige inflasie apart vir staatskole en privaat skole, én universiteite nagespeur kan word. 

Kleuterskole en skryfbehoeftes bly steeds ingesluit.

OFM Business Hour mvh/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.