On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Business

Potchefstroom Sakekamer se vol kalender dui op positiewe sakesentiment

───   OLEBOGENG MOTSE 12:14 Mon, 01 Sep 2025

Potchefstroom Sakekamer se vol kalender dui op positiewe sakesentiment | News Article
Voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer, Nicholaas van den Berg, in 2024. Foto verskaf

Sakesentiment in Potchefstroom, Noordwes, is positief, soos blyk uit die Potchefstroom Sakekamer se besige kalender en verskeie projekte.

Nicholaas van den Berg, voorsitter, sê in ’n onderhoud met die OFM Sakeuur nuwe ondernemings maak hul deure oop en daar is baie beweging in die stad, ondanks nasionale en wêreldwye ekonomiese onsekerheid. Vanjaar het begin met die sakekamer se jaarlikse skattejag in Februarie. 

Die geleentheid het aan ondernemings die kans gegee om hul instelling en dienste aan Potchefstromers bekend te stel, netwerke te bou, en die nuwe jaar op ’n energieke noot te begin met spanbouaktiwiteite vir personeel.

Ander noemenswaardige geleenthede sluit die jaarvergadering in, asook die onlangse ProPotch Quiz Night.

Die stad het ook die Potch Geesfees aangebied, waar die sakekamer ’n trotse strategiese vennoot was. Van den Berg sê hulle gaan die geld, wat op 29 en 30 Augustus by die Geesfees ingesamel is, vir gemeenskapsontwikkeling aanwend. 

Hy sê dit dien as ’n voorspel tot vanjaar se Aardklop, wat van 7 tot 12 Oktober plaasvind. Verlede jaar is die Geesfees gebruik om paaie te herstel en die stad op te knap vir Aardklop-besoekers.

In Oktober wag nog ’n hoogtepunt: die Gaan Wild MTB & Run 2025. Dit is een van die sakekamer se vlagskipgeleenthede in Potchefstroom en sal op 18 en 19 Oktober plaasvind in die Lekwena-wildreservaat. 

Dit is gemik op fietsryers en veldlopers. Van den Berg verklap hulle voeg vanjaar vir die eerste keer ’n swemkomponent by die geleentheid.

Voorts beplan die sakekamer om sy jaarlikse gholfdag later vanjaar aan te bied.

Intussen het die Buro vir Ekonomiese Navorsing/Rand Merchant Bank se sakevertroue-indeks in die tweede kwartaal met vyf punte gedaal tot 40. Die herstel wat in die eerste helfte van verlede jaar begin het, tot stilstand gekom het in die eerste kwartaal van 2025.

Isaah Mhlanga, hoofekonoom van RMB, het vroeër aan OFM Sakeuur gesê: “Dit impliseer dat slegs vier uit elke tien respondente in die mees siklies sensitiewe sektore van die ekonomie tevrede is met die heersende sake-omstandighede.

“Die meerderheid is dus pessimisties oor handelsvooruitsigte. Hoewel vertroue steeds bo die gemiddeld vir 2023 en 2024 bly, is dit nou effens onder die langtermyn gemiddeld.”

Sakeklimaat verbeter

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci) stel ook sy eie sakevertroue-indeks (SVI) saam. Volgens sy data het sakevertroue tans verbeter, maar uitdagings lê voor.

In die jaar tot Julie het die indeks met 7,6 punte gestyg, en met 3,5 punte tussen Junie en Julie. Die gemiddeld vir die eerste sewe maande van 2025 was 118,6 – wat 7,7 punte hoër is as die 110,9 vir dieselfde tydperk in 2024.

“Die sakeklimaat het oor die kortter myn (Junie tot Julie) sowel as mediumtermyn (Julie 2024 tot Julie vanjaar) verbeter,” sê Sacci. “In die korttermyn het elf van die veertien SVI-subindekse dieselfde gebly of ’n positiewe sakeklimaat aangedui. 

“Oor die mediumtermyn het tien subindekse ’n aanhoudende verbetering in die sakeklimaat getoon.” Sacci waarsku egter dat ekonomiese onsekerheid waarskynlik die sentiment sal beïnvloed, veral weens die Verenigde State se wederkerige tariewe.

OFM Sakeuur mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.