On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Business

OFM Sakeuur: Sakeleier lug kommer oor rentekoersbesluit

───   15:58 Fri, 19 Sep 2025

OFM Sakeuur: Sakeleier lug kommer oor rentekoersbesluit | News Article
Huishoudings wat sukkel om die paaiemente op hul huislenings by te hou moet proaktief optree, maan Renier Kriek. Foto ter illustrasie

Die Reserwebank se jongste besluit om die repokoers onveranderd te laat, lok steeds heelwat reaksie uit.

Renier Kriek, besturende direkteur van Sentinel Homes, lug op OFM Sakeuur sy kommer teenoor Rigardt Hug oor die impak van dié konserwatiewe monetêre beleid op die Suid-Afrikaanse ekonomie en eiendomsmark. Hy sê die Reserwebank het onlangs erken dat hy die inflasieteiken verskuif het na die onderste grens van die teikenband, 3%, sonder voldoende oorleg met die tesourie.

Kriek beskou dié skuif as ondemokraties en waarsku dat dit die land se groei en werkskepping kan strem. “Suid-Afrika het van die hoogste reële rentekoerse onder vergelykbare ekonomieë. Dit maak vaste kapitaalvorming moeiliker en vertraag ekonomiese momentum.”

Hy meen die huidige inflasiekoers, wat naby 3% beweeg, sou ’n geleentheid gebied het om die rentekoers met minstens 25 basispunte te verlaag. 

Renier Kriek, besturende direkteur van Sentinel Homes. Foto verskaf

“Die Reserwebank los die ekonomiese uitdagings in die verkeerde volgorde op. Lae groei en hoë werkloosheid vereis ’n meer stimulerende beleid,” voeg hy by.

Hoewel die Reserwebank se besluit as ’n rentekoers-verposing beskou kan word, sê Kriek die bank se kommunikasie – veral die sogenaamde “forward guidance” – laat wel ruimte laat vir toekomstige verlagings. 

Hy verwelkom dié versigtigheid, maar benadruk die land kan dit nie bekostig om groeigeleenthede te verspeel nie.

Tree proaktief op

Wat betref huishoudings wat sukkel om die paaiemente op hul huislenings by te hou, raai Kriek verbruikers aan om proaktief op te tree.

“Kontak jou kredietverskaffer voordat jy ’n paaiement mis. Daar is dikwels opsies soos betaalvakansies of aangepaste betalingsplanne beskikbaar,” sê hy. 

Hy beklemtoon emosionele volwassenheid is nodig wanneer finansiële besluite oor waardevolle bates geneem moet word.

OFM Sakeuur

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.