On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Business

Coca Cola Company, Gutsche-familie verkoop belang in Afrika-maatskappy

───   09:15 Tue, 21 Oct 2025

Coca Cola Company, Gutsche-familie verkoop belang in Afrika-maatskappy | News Article
Coca-Cola Beverages Africa is bedrywig in 14 Afrikalande. Foto: Facebook/Mohamed Magdy

Coca-Cola Company en Gutsche Family Investments het ingestem om ’n beherende belang van 75% in Coca-Cola Beverages Africa (Edms.) Bpk. aan Coca-Cola HBC AG te verkoop.

Coca-Cola Beverages Africa (CCBA) is die grootste Coca-Cola-bottelaar in Afrika met bedrywighede in 14 lande. Dit verteenwoordig sowat 40% van alle Coca-Cola-produkte wat op die vasteland verkoop word. Coca-Cola HBC is een van die grootste Coca-Cola-bottelaar ter wêreld en het bedrywighede in 29 lande in Europa en Afrika, waaronder Nigerië en Egipte.

Coca-Cola sal 41,52% van sy 66,52%-belang in CCBA verkoop aan Coca-Cola HBC, en Coca-Cola HBC verkry ook die 33,48%-belang in CCBA wat deur Gutsche Family Investments gehou word. In totaal waardeer die transaksie 100% van CCBA teen ’n ekwiteitswaarde van $3,4 miljard.

Die transaksies sal na verwagting einde volgende jaar afgehandel word.

Belangrike stap in herskikking

Coca-Cola en Coca-Cola HBC het ook ooreengekom op ’n afsonderlike opsieooreenkoms wat aan Coca-Cola HBC die reg gee om die oorblywende 25% te verkry van CCBA – wat steeds aan Coca-Cola behoort – binne ses jaar ná afhandeling van die transaksie.

Die verkoop van Coca-Cola se belang in CCBA is ’n verdere belangrike stap in die voortgesette verandering in eienaarskap van maatskappy-besit of -beheerde bottelbedrywighede. 

Verlede jaar het bottelbeleggings 13% van gekonsolideerde netto inkomste verteenwoordig. Dit was in 2015 52%. Ná die afhandeling van hierdie transaksie verwag die maatskappy bottelbeleggings sal ongeveer 5% van gekonsolideerde netto inkomste uitmaak.

Mylpaal in Indië

In Julie het Coca-Cola nog ’n mylpaal in Indië bereik met die verkoop van ’n 40%-belang in Hindustan Coca-Cola Beverages Pty. Ltd. aan die Jubilant Bhartia Group. Coca-Cola behou ’n 60%-belang in die Indiese bottelaar.

“Coca-Cola HBC is ’n sterk en gewaardeerde bottelaar wat sal help om die volgende groeifase vir CCBA aan te wakker,” sê Henrique Braun, uitvoerende adjunkpresident en bedryfshoof van Coca-Cola.

“Coca-Cola HBC het reeds ’n sterk rekord van groei in Afrika met markaandeelgroei in Egipte en merkbare volume- en aandeelgroei in Nigerië die laaste paar jaar.”

Dekades lank in Afrika

Ná die verkoop sal die Gutsche-familie steeds betrokke bly by die Coca-Cola-stelsel en Afrika deur hul eienaarskapsbelang in Coca-Cola HBC. “Die Gutsche-familie is al langer as 80 jaar toegewy tot die ontwikkeling van die Coca-Cola-onderneming in Suider- en Oos-Afrika,” sê Philipp Hugo Gutsche, voorsitter van GFI.

Ná die oorname sal Coca-Cola HBC twee derdes van Afrika se algehele Coca-Cola-stelselvolume verteenwoordig en meer as 50% van die vasteland se bevolking dek. Dit sal sy langtermynverbintenis tot groei in Afrika versterk. 

Met byna 75 jaar se ervaring in Afrika sedert hul stigting in Nigerië skep die oorname ’n platform vir Coca-Cola HBC om beste praktyke te deel, hul toonaangewende vermoëns toe te pas en verdere beleggings in CCBA te maak om volhoubare en winsgewende groei te dryf.

Coca-Cola HBC is een van die grootste Coca-Cola-bottelaars ter wêreld en het bedrywighede in 29 lande in Europa en Afrika. Foto: Facebook

“Ons is baie opgewonde om die oorname van ’n meerderheidsbelang in CCBA aan te kondig met ’n pad na volle eienaarskap,” sê Zoran Bogdanovic, uitvoerende hoof van Coca-Cola HBC.

“Die vasteland het ’n aansienlike en groeiende verbruikersbasis met groot potensiaal vir verhoogde per capita-verbruik. Ons glo ons kan hierdie groei ontsluit en waarde vir ons aandeelhouers skep deur ons toonaangewende vermoëns, kommersiële kundigheid en volhoubaarheidsbenadering.”

As deel van die transaksie sal Coca-Cola HBC ’n sekondêre notering op die JSE nastreef – ’n bevestiging van sy verbintenis tot Suid-Afrika en die vasteland.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Mediaverklaring dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.