Business
Beleggings stroom na Harrismith, maar afbakeningsraad bly struikelblok─── OLEBOGENG MOTSE 15:32 Tue, 28 Oct 2025
Terwyl beleggings van honderdmiljoene rand na Harrismith stroom, raak die behoefte ál dringender vir ondernemings en inwoners om aan Maluti-A-Phofung se greep te ontsnap.
Die dorp se aantrekkingskrag lê in sy ligging en sentrale posisie; dit is waarom daar soveel belegging plaasvind, vertel Ben Deysel, voorsitter van die Harrismith-sakeforum. “Alle verkeer wat van die Vrystaat na Durban beweeg, veral op die N3, gaan verby Harrismith.
“Dit beteken daar is baie mense wat hier deurkom,” sê hy.
Miljoene reeds belê
Deysel sê sowat R200 miljoen se belegging het die laaste paar jaar al die dorp binnegestroom, waarvan ’n gedeelte gelei het tot die bou en opening van die nuwe Checkers in The Harri Mall. Die uitbreiding is “baie suksesvol”, en hy sê daar is nou verskeie multinasionale maatskappye wat ook beplan om hier takke te open.
“Die onderhandelinge is op my tafel, maar bly tans vertroulik,” sê hy.
Ben Deysel, Harrismith-sakeforum. Foto verskaf
Hoewel die omvang van die beleggings nie bevestig kon word nie, toon ’n aanlyn ontwikkelingshaalbaarheidsverslag Harrismith het groot potensiaal vir residensiële, kommersiële en toerisme-ontwikkeling.
Die verslag wys die dorp se strategiese ligging aan die N3-hoofweg, asook die voordele van Maluti-A-Phofung se spesiale ekonomiese sone, hou talle moontlikhede in.
Afbakeningsraad die hoofhindernis
’n Groot struikelblok vir hierdie groei en ontwikkeling bly die munisipale afbakeningsraad. Inwoners, boere en sake-eienaars op Harrismith en Kestell voer reeds jare lank veldtogte om van Phuthaditjhaba/QwaQwa geskei te word.
Deysel sê hulle kan nie langer “die voerkraal wees van waar geld na QwaQwa verdwyn” nie. Swak dienslewering in die gebied blyk die gevolg te wees van hierdie ongelyke verspreiding van geld.
Soos elders in die land het die plaaslike sakegemeenskap die leiding geneem om slaggate te herstel en die dorp mooier te maak om beleggers te lok. Maar die plaaslike owerheid moet ook sy kant begin bring, en die enigste oplossing is om Harrismith en Kestell van QwaQwa te skei.
Gemeenskappe dreig met regstappe
Die petisie om van Maluti-A-Phofung geskei te word, het intussen ontwikkel tot ’n formele aansoek aan die afbakeningsraad. Die raad het die aansoek egter afgekeur, saam met nog 13 voorstelle vir nuwe munisipaliteite landwyd.
Die DA beskryf die besluit as “irrasioneel” en sê dit is ’n verraad van gemeenskappe se reg op funksionele plaaslike regering.
Deysel meen dis onvermydelik dat die gemeenskap se wil uiteindelik sal seëvier. “Ons is bereid om die saak tot in die hoogste hof te neem, as dit moet,” sê hy.

