Business
Vereeniging se lughawe sy lisensie kwyt─── MORNÉ VAN ROOYEN 14:22 Mon, 20 Apr 2026
Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) het die Vereeniging-lughawe se lisensie gekanselleer.
Die VF Plus skryf dit toe aan Sedibeng-distriksmunisipaliteit se versuim om die lughawe in stand te hou. “(Dis) ’n direkte en skadelike uitwerking op die lugvaartsektor in die streek en vererger die reeds brose ekonomie van die Sedibeng-distrik,” sê Rian Lubbe, VF Plus-distriksraadslid.
Regtens moet lughawelisensies jaarliks hernu word, onderhewig aan streng ouditering en inspeksies. Versuim om aan hierdie vereistes te voldoen kan tot boetes of selfs sluiting lei, sê Lubbe. In die geval van Vereeniging-lughawe was die gebrekkige omheining die hoofrede vir die stap.
Die owerheid vereis ’n veilige heining. “Die huidige, stukkende omheining, wat onbeheerde toegang tot die terrein moontlik maak en die brandstofplaas in gevaar stel, is ontoereikend.”
Diere dwaal ongehinderd
Die landingsligte langs die aanloopbaan is gesteel, voeg Lubbe by, wat nagvlugte onmoontlik maak. “Diere beweeg vrylik op die terrein rond en riool vloei langs die geboue, wat ’n duidelike teken van verval en verwaarlosing is.”
Hoewel die distriksmunisipaliteit in Julie ’n tender van R180 000 vir onderhoudswerk goedgekeur het, kon die VF Plus tydens ’n onlangse toesigbesoek geen teken van opknappingswerk sien nie.
Lubbe sê hulle sal in die raad, wat die plaaslike munisipaliteite Lesedi (Heidelberg), Midvaal (Meyerton) en Emfuleni (Vanderbijlpark) insluit, voorstel die lughawe word tydelik gesluit totdat alle herstelwerk, soos deur die lugvaartowerheid voorgeskryf, afgehandel is.
‘Sedibeng se begroting kan nie die lughawe se bedryfskoste bestry nie’
“Die huidige nalatigheid hou die risiko in dat die vliegskool, wat die lughawe vir opleiding gebruik, sy kontrak kanselleer en elders hervestig,” maan Lubbe, en voeg by hulle sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om die rioolstelsel, omheining, beligting en ander kritieke infrastruktuur te herstel en te onderhou.
Volgens Sedibeng se voorgestelde geïntegreerde ontwikkelingsplan vir 2022 tot 2027 is die Vereeniging-lughawe se lisensie ook tydens die BLO se inspeksie in 2019 opgeskort. “Sedibeng se begroting kan nie die lughawe se bedryfskoste bestry nie,” het die distriksmunisipaliteit vier jaar gelede erken, toe die lughawe se inkomste hoofsaaklik verkry is van die vliegskool se huurgeld.
“Vliegopleiding word gebied op lughawens wat dien as basis vir vliegopleidingskole. (Landwyd) dien minstens 50 lughawens hoofsaaklik as toegangspoorte vir sakedoeleindes, soos mynbou. ’n Geskatte 60 bied toegang na wildlodges en -oorde.”
Ontwikkeling vir volhoubaarheid
Die meeste lughawens in provinsiale of munisipale besit is nie volhoubaar sonder geldelike ondersteuning van die nasionale regering nie, het Sedibeng destyds gesê. Sommige kleiner lughawens kan lewensvatbaarheid verbeter deur hulle toe te spits op ontwikkeling in die onmiddellike omgewing wat nie verband hou met lugvaart nie.
Die distriksraad het sewe jaar gelede reeds toegegee weens die agteruitgang van die lughawe sou aanliggende handelsbedrywighede soos kantoorgeboue kort voor lank nie meer die lughawe se inkomste kon ondersteun nie. “Die lughawelisensie is deurslaggewend om dié aktiwiteite om die lughawe te steun.”
Sedibeng het destyds gehoop om Vereeniging se lughawe te omskep in ’n vraglughawe vir buitelandse verkeer. Van planne om die omheining op te knap, die ligte te vervang, die brandstofberging te bestuur en te verbeter en lugvaartbeheer op standaard te bring, het niks gekom nie.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

