Central SA
Four Paws geskok oor leeus wat van kant gemaak is─── CATHY DLODLO 06:49 Tue, 05 Oct 2021
'n Dieremishandelingsaak in die Vrystaat, wat daartoe gelei het dat 30 leeus op ‘n plaas van kant gemaak is, het skokgolwe deur die wildbedryf gestuur.
Die internasionale diere-welsynsorganisasie, Four Paws, sê hy hoop die mishandeling en verwaarlosing van die leeus, wat in ‘n wegholveldbrand op ‘n plaas in die Glen-omgewing beseer is, gaan dringend deur die nasionale Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake aangespreek word.
Die organisasie het gesê aangesien minister Barbara Creecy vroeër aangekondig het dat die departement beplan om die teel van leeus in aanhouding in die land uit te faseer, moet die regering ‘n oudit doen van alle geriewe en plase waar daar met wilde katte geteel word.
LEES MEER: Kriminele klag teen VS leeuboer ingedien
Die organisasie sê sowat 12 000 leeus word op ongeveer 300 leeuplase in die land geteel. Four Paws het nou gevra dat terwyl die proses om wetgewing in te stel nog aan die gang is, moet die regering dringend tydelike regulasies proklameer wat die mishandeling van wild aanspreek. Die organisasie sê eienaars van plase moet ook aanspreeklik gehou word vir die mishandeling van dié diere as dit op plase gevind word.
OFM-nuus
