Central SA
Gesondheidwerkers spring in om kos vir Pelonomi-pasiënte te maak─── CATHY DLODLO 10:28 Mon, 13 Dec 2021

Gesondheidswerkers, wat nie deel is van die staking by die Pelonomi-hospitaal nie, het die naweek self ingespring om seker te maak dat pasiënte kos kry.
Mediese personeel, amptenare van die Menslike Hulpbronne-afdeling en werkers van ander afdelings en sale het bymekaar gekom om ‘n dreigende koskrisis in die hospitaal af te weer. Hulle het die afgelope naweek die kos voorberei en aan pasiënte uitgedeel te midde van ‘n staking wat die hospitaalgange verlate gelaat het. Hospitaalpersoneel - insluitende verpleegsters, skoonmakers en sekuriteitspersoneel – het Maandag begin staak.
Sommige hospitaalsale is sonder personeel gelaat en van die dienste moes noodgedwonge tydelik gestaak word.
OFM-nuus het vroeër berig kommer bestaan dat pasiënte nie gaan kos hê die naweek nie, aangesien die private spyseniers nie oor naweke diens doen nie. Personeel wat normaalweg vir die kos van pasiënte oor naweke verantwoordelik was, staak ook.
Intussen, volgens inligting, is verskeie ander dienste by die hospitaal ook tydelik gestaak, soos toelatings en operasies. Pelonomi is die traumahospitaal in die provinsie, maar gevalle word intussen na die Nasionale Hospitaal en Universitas Akademiese Hospitaal verwys.
Hospitaalpersoneel sê hulle klagtes in terme van gesondheid- en veiligheidsregulasies en vakante poste val al lank op dowe ore.
OFM-nuus