Central SA
OG sê Sol Plaatje het 'geen plan nie’─── 08:36 Mon, 30 Jan 2023
Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley het weer 'n gekwalifiseerde ouditmening vir die 2021/22-finansiële jaar ontvang, wat wys dat die verlies van water en elektrisiteit massiewe uitdagings bly.
Waterverliese het jaar-op-jaar van 61,69% tot 64,63% toegeneem.
Volgens 'n Demokratiese Alliansie-raadslid, Chris Whittaker, word daar nie aandag gegee aan langdurige lekkasies en stukkende meters nie, al word dit telkens deur inwoners en raadslede aangemeld.
'Reageer slegs op noodgevalle'
Volgens die assesseringsverslag vir 2022/23, het “die munisipaliteit geen instandhoudingsplanne nie en reageer slegs op noodgevalle”.
Elektrisiteitsverliese het jaar-op-jaar van 26,42% tot 29,69% toegeneem en word deur die DA voor die deur gelê van swak inkomste-invordering en straatligte wat heeldag brand.
"Die munisipaliteit is afhanklik van toelaes en het skaars genoeg fondse byderhand vir een week se bedrywighede. Ondanks beloftes om deurlopende inkomsteverliese reg te stel, het die situasie vererger."
Die ouditmening lê ook klem op die verantwoordelikhede van die rekenpligtige beamptes by die munisipaliteit en hulle rol in die samestelling van die verslag.
LEES OOK: Nasionale Raad van Provinsies vaar uit teen Noord-Kaapse munisipaliteite
Die Ouditeur-generaal sê daar is baie gevalle waar die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en regulasies rakende die voorsieningskettingbestuur geïgnoreer is.
“Geen redelike stappe is gedoen om vrugtelose en verkwistende uitgawes van meer as R50 miljoen en onreëlmatige uitgawes van meer as R150 miljoen te voorkom nie. Onreëlmatige uitgawes is ook nie ondersoek om te bepaal of fondse verhaal kan word of die verantwoordelike individu aanspreeklik gehou kan word nie.”
Die munisipale woordvoerder, Thoko Riet, sê die verslag is na die betrokke amptenaar gestuur en reaksie daarop word binnekort verwag.
Sy beken dat die inhoud van die ouditmening waar is, maar dat pogings aangewend word om die herstel van noodsaaklike infrastruktuur te verseker en dat die invordering van dienstegeld “daadwerklik aandag geniet”.
OFM-nuus/Roderick Titus
