Central SA
Nasionale Raad van Provinsies vaar uit teen Noord-Kaapse munisipaliteite─── 14:51 Mon, 23 May 2022

Die Nasionale Raad van Provinsies het twee Noord-Kaapse munisipaliteite ten sterkste veroordeel wat glo versuim het om hul munisipale infrastruktuurtoelaes te bestee.
Die Gamagara-munisipaliteit het niks van sy meer as R12 miljoen-toelae vir die 2021/22-boekjaar bestee nie, terwyl die Richtersveld-munisipaliteit ook nie hul meer as R14 miljoen gebruik het nie.
Die Nasionale Raad van Provinsies se Willie Aucamp sê beide munisipaliteite se gemeenskappe benodig dringend infrastruktuurverbeterings – dit sluit water, riool en elektrisiteit in.
Aucamp sê die geld is nou vir die munisipaliteite verlore, en dat die skade wat aan gewone inwoners aangerig is, ongekend en onregverdig is.
Die raad sal na verwagting die betrokke munisipaliteite vra om redes te staaf vir die wanbesteding. Die ondervoorsitter van die raad, Silvia Lukas sê infrastruktuur wat verband hou met water en sanitasie asook instandhoudingswerk aan strate en paaie is van die behoeftes wat geïdentifiseer is.
Sy voeg by die raad sal verder reageer sodra 'n amptelike verslag van die ouditeur-generaal ontvang is.
OFM-nuus/Roderick Titus