Central SA
Departement sluit nog twee Vaaldam-sluise─── 07:53 Sun, 26 Feb 2023
Die Departement van Water en Sanitasie het nog twee Vaaldam-sluise gesluit wat die invloei van water na die Bloemhofdam verlaag.
Dit bring die aantal sluise wat gesluit is op vier te staan. Agt sluishekke bly egter steeds oop.
By Kanoneiland in die Dawid Kruiper Munisipale regsgebied by Upington is 'n tweede brug weens oorstromings gesluit, met versoeke vanaf die Oranjerivier Landbou-unie dat inwoners en boere paraat moet wees.

LEES OOK: Douglas-inwoners gewaarsku teen moontlike oorstromings
Die departement se woordvoerder Wisane Mavasa sê die Vaaldam was teen Saterdag 113% vol, terwyl die Bloemhofdam na 109% gedaal het.
In die Oranjerivier is die Gariepdam steeds 111,25% vol, en die Vanderkloofdam se uitvloei staan op 1 471 kubieke meter per sekonde.
Inwoners laer stroomaf word gemaan om versigtig te wees veral by laagwaterbrûe en strome omdat lewensverliese kan voorkom indien die water se sterkte onderskat word.
