On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse dorp kry toegang tot ambulansdienste

───   BAMBATHA GIKO 15:52 Wed, 08 Mar 2023

Noord-Kaapse dorp kry toegang tot ambulansdienste | News Article

Die Britstown-kliniek naby De Aar het uiteindelik toegang tot EMS-dienste gekry nadat die dorp geen ambulansdienste gehad het nie.

Die DA se Bennie Swanepoel sê die Departement van Gesondheid het Woensdag 8 Maart 2023 'n Mahindra Bakkie-ambulansvoertuig by die kliniek afgelewer . 

Swanepoel sê die Mahindra sal slegs as 'n tydelike voertuig gebruik word om pasiënte van Britstown na die hospitaal in De Aar te vervoer terwyl hulle wag dat die Quantum-taxi-ambulans teen einde Maart 2023 afgelewer word.

“So wat nou hier gaan gebeur is die volgende, die EMS gaan met hierdie Mahindra werk en sodra die nuwe ambulans kom, gaan hierdie Mahindra terug en dan gaan kry ons die nuwe Quantum.”

Swanepoel sê die enigste probleem waarmee die kliniek tans te kampe het, is die tekort aan EMS-personeel. Daar is net twee mense wat met die ambulans werk, wat 'n probleem inhou aangesien daar tans niemand is om tussen skofte te roteer om 'n 24-uur diens te bied nie. Daar word egter aandag aan die kwessie gegee.

“Die departement sou graag wou hê dat die ander drie mense wat CVs ingestuur het, goedgekeur moet word sodat hulle vier skofte kan werk. Sodoende, as daar ‘n skof op rus gaan, dan is daar nog ‘n ekstra skof wat werk. Dit is ons groot uitdaging hier,” het hy gesê.

Hy voeg by, die ander kwessie wat die departement moet aanspreek, is dié van tydelike personeel wat permanent aangestel moet word.

OFM-nuus het vroeër berig, weens die tekort aan EMS-dienste in Britstown, moes pasiënte vir 'n ambulans van Vosburg wag, wat 65 km buite Britstown is, om hulle na die De Aar-hospitaal te vervoer, wat meer as 50km verder is.

LEES OOK: Gesondheidsdepartement kos Noord-Kaapse burgers hul lewe

Hierdie gebrek aan voldoende mediese dienste in die provinsie het tot verskeie sterftes gelei. Een so 'n voorval is die 52-jarige Nomsa Ntloko wat doodgebloei het omdat daar geen ambulansdiens was nie.

Daar was 'n privaatambulans by die Attie Jooste-kliniek geparkeer. Die Ntloko-familie kon egter nie die diens bekostig nie, wat na bewering R1 500 beloop. Swanepoel voeg by dat die Departement van Gesondheid ook huiwerig was om die privaatambulans vir die pasiënt te borg.

Die departement het nog nie op OFM-nuus se navrae gereageer nie.

OFM-nuus/Bambatha Giko

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.