Central SA
Griekwapark maak gereed vir toprugby─── CHARNÉ KEMP 05:12 Fri, 10 Mar 2023
Nuwe kantlyne is geverf, televisiekamerakabels is om die veld aangelê, koeldrank is afgelewer en nuwe advertensieborde is opgesit.
Selfs perdebye is uit somersneste in losies verjaag om gereed te maak vir die eerste wedstryd van die nuwe Curriebeker-seisoen waarin die Cheetahs en Griekwas mekaar pak.
Die kwik styg na verwagting vanmiddag tot 34 °C wanneer dié buurspanne mekaar om 16:00 in Kimberley die stryd aansê. Die volgende twee wedstryde van die dubbelrondte-kampioenskap word Saterdag gespeel wanneer die Haaie teen die Griffons, en die Leeus teen die WP uitdraf.
Die nuwe rugbyseisoen skop af in dieselfde stadion waar die Pumas verlede jaar die Curriebeker gelig het nadat hulle die Griekwas verslaan het.
Die Griekwa-stadion, wat aan die Sol Plaatje-universiteit behoort, is blink gepoets vir die eerste groot rugbywedstryd van die jaar. Dit word deesdae ook baie vir universiteitsportgeleenthede en die plaaslike liga se sokkerwedstryde gebruik.
LEES OOK: CurrieCupFinal: Griekwas moet sáámstaan, sê 'Mannetjies' Roux
Hoewel die Cheetahs en Griekwas verlede jaar etlike kere teen mekaar gespeel het, het vanjaar se spanne heelwat nuwe spelers. Kenners meen enigiets is moontlik.
Griekwas se uitvoerende hoof, Arni van Rooyen, sê die veld is mooi groen ná milde reën die laaste weke. “Ons het goed geoefen en is goed voorberei. Die span het ook vier vriendskaplike wedstryde ter voorbereiding gespeel.”
Hy meen toeskouers kan mooi rugby verwag. “Ek is vol verwagting dat daar meer as 3 000 toeskouers sal wees. Ons goeie spelpeil van verlede jaar het baie belangstelling onder entoesiaste gekweek.”
Van Rooyen hoop ál meer toeskouers sal na die stadion stroom namate die seisoen momentum kry.
Sportliefhebbers kan die naweek ook na ander sportgeleenthede in Kimberley uitsien. Die Hoërskool Diamantveld hou ’n rugbydag vir provinsiale skole, en die groot aantrekkingskrag is die deelname van die Afrikaanse Hoër Seunskool. Laerskool Staats bied ’n rugby-en-netbalsportfees aan.
