Central SA
Mediese sloerstaking stel lewens oral in Noord-Kaap in gevaar─── 10:47 Sat, 08 Apr 2023
Inwoners van Springbok en omgewing is bevrees die sloerstaking van nooddienspersoneel op Upington kan ook ’n nadelige uitwerking op die ambulansdiens in Namakwaland hê en pasiënte se lewe in gevaar stel.
Dié Paasnaweek beman minstens twee werkers wel die mediese nooddiens se beheersentrum in Namakwaland se hoofdorp, het ’n senior personeellid van die Dr. Izak van Niekerk-staatshospitaal aan OFM Nuus gesê, maar gevra om anoniem te bly. Maar dit help min as werkers in Upington se sentrum, waarheen Namakwalanders moet bel om ’n plaaslike ambulans te ontbied , nie op hul pos is nie.
Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement moes die afgelope week ’n hofbevel bekom om nooddienspersoneel op Upington te dwing om hul werk te doen nadat hulle begin sloerstaak het, maar luidens onbevestigde berigte steur hulle hulle nie daaraan nie.

Pasiënte van Namakwaland moet 800 km ver vervoer word na Kimberley, maar sommige van die ambulanse is in ’n bedenklike toestand, soos dié een waarvan die onderstel beskadig is. Foto: Isaac Cloete
Gevra of die sloerstaking ook die verre weste van die provinsie sal raak, het Lulu Mxekexo, provinsiale gesondheidswoordvoerder, gesê: “As deel van die Paasnaweek het die departement seker gemaak dat hulpbronne beskikbaar is sodat gesondheidsdienste gelewer kan word.”
Volgens haar beskou die departement enige ontwrigting deur hospitaalpersoneel outomaties as onwettige nywerheidsoptrede aangesien gesondheidsdienste as ’n noodsaaklike diens beskou word.
‘Baiekeer is ambulanse laat of op pad na verkeerde adresse of dorpe’
Pasiënte en inwoners van Namakwaland is nie net die joos in oor die staking nie, maar ook omdat die noodbeheersentrum in 2022 na die Dr. Harry Surtie-hospitaal op Upington gesentraliseer is.
Dit beteken die sentrum op Springbok mag nie meer oproepe hanteer om ambulanse te ontbied nie. Inwoners word nou verplig om na Upington (400 km vanaf Springbok) te bel as hulle dringend ’n ambulans nodig het.
Hulle meen dis tydrowend en onprakties. Baiekeer is ambulanse laat of op pad na verkeerde adresse of dorpe in Namakwaland omdat die personeel op Upington nie die gebied ken en duidelike opdragte aan ambulanspersoneel kan gee nie.
Inwoners se lugtyd raak soms op terwyl hulle lank moet aanhou om ’n ambulans by die beheersentrum op Upington te bespreek. Die ergste, sê hulle, is dat operateurs by nooddienste op Upington soms glad nie eens oproepe beantwoord nie.
‘Die pasiënt het gesterf omdat die ambulans nooit opgedaag het nie’
Onlangs het ’n 64-jarige asmalyer gesterf op Buffelsrivier, sowat 40 km wes van Springbok, omdat die ambulans nie uitgekom het nie nadat sy familie deurlopend probeer het om een te ontbied.
Sanita du Plooy, ’n vriendin van die oorledene, het Upington toe gebel. "Dit was vergeefs, want die pasiënt het gesterf omdat die ambulans nooit opgedaag het nie.”
In ’n ander geval moes Elizma Curnow en haar siek ma, wat sy na Kimberley vergesel het, op Pofadder verneem dat die vulstasie daar die pasiëntebussie se brandstofkaart geweier het weens onvoldoende fondse.
Die ambulansbestuuder moes toe bloos-bloos aan die pasiënte verduidelik hulle moet omdraai en terugry Springbok toe, 164 km ver.
Curnow was woedend oor die onreg en die onmenslike behandeling wat haar siek ma gekry het.

Dié ambulans, wat steeds in gebruik is, het al meer as 900 000 km afgelê, maar die gesondheidsdepartement meen dis geskik om pasiënte tussen Namakwaland en Kimberely te vervoer. Foto: Isaac Cloete
As inwoners dit wel regkry om ’n ambulans betyds te bespreek vir afsprake by byvoorbeeld hospitale op Upington of in Kimberley, word dit soms op die nippertjie gekanselleer, beweer ontstoke inwoners.
Die kansellasies word in sommige gevalle veroorsaak deur brandstofkaarte wat nie werk nie, ambulansbestuurders wat weier om pasiënte in onpadwaardige of beskadigde ambulanse te vervoer of lisensieskywe wat verval het.
Dit het al gebeur dat pasiënte die 800 km afgeê het na ’n hospitaal in Kimberley, net om te hoor daar is geen hospitaalbeddens beskikbaar nie, ten spyte van afsprake wat vooraf gereël was.
‘Oproepe vir ambulanse moet terug na Springbok verskuif word’
Dit beteken dat hulle dan weer onmiddellik twaalf uur in die ambulans moet deurbring op pad terug na Springbok.
Ayabonga Somi, waarnemende hoof van die mediese nooddiens op Springbok, het vroeër gesê hulle is bewus van die klagtes en frustrasies van die publiek en werk hard aan oplossings.
Hy stem saam die nooddienste moet verbeter en dat oproepe vir ambulanse terug na Springbok verskuif moet word. Volgens hom het hulle nie ’n eie gebou op Springbok nie; daarom gebruik hulle ’n gebou van die Namakwa-distriksmunisipaliteit.
