On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Tekort aan ambulanse laat pasiënte aan eie lot oor

───   08:18 Thu, 13 Apr 2023

Tekort aan ambulanse laat pasiënte aan eie lot oor | News Article

Die voortslepende tekort aan nooddiensvoertuie in die Noord-Kaap plaas inwoners wat van die staatsdiens vir gesondheidsorg afhanklik is, se lewens in gevaar.

Vroeër vandeesmaand moes 'n siek vrou in ’n kruiwa na die Hanover-kliniek geneem word weens die gebrek aan ’n ambulans in ’n werkende toestand.

Drie ambulanse wat aan die Hanover-kliniek toegeken is, is glo uit diens gestel wat beteken pasiënte is óf gestrand óf hulle moet hul eie vervoerreëlings tref om mediese sorg te kry.

Die vrou het erge hartkrampe ondervind, waarna haar man haar in hul kruiwa verder as 'n kilometer na ’n kliniek moes stoot nadat hy nie ’n ambulans in die hande kon kry nie.


Met hul aankoms by die kliniek is sy met tuberkulose gediagnoseer, medikasie gegee en aangesê om na die De Aar-hospitaal te gaan. Sy was egter, soos talle pasiënte, onseker oor hoe sy daar sou kom omdat daar geen ambulanse beskikbaar is nie.

Die Demokratiese Alliansie (DA) voer aan dat Hanover se drie ambulanse nie in gebruik is nie weens uitstaande lisensiehernuwings.

LEES OOK: Gesondheidsdepartement kos Noord-Kaapse burgers hul lewe

OFM-nuus het voorheen berig oor ’n vrou wat dood is weens die ontoereikendheid van die gesondheidsorgstelsel in Britstown. Nomsa Ntloko (52) is na bewering weens bloeding by haar huis dood nadat daar geen ambulans was om haar hospitaal toe te neem nie. Die enigste beskikbare ambulans in die dorp wag glo op herstelwerk.

In ’n ander voorval in Fraserburg is ’n pasgebore baba in sy ma se arms dood nadat sy vrugteloos probeer het om die dorp se nooddienste sover te kry om haar by te staan. Die dorp se ambulans was buite werking en die naaste hospitaal is 100km verder in Sutherland geleë.

In 'n klagte wat aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gestuur is, het die DA spesifiek die kruiwa-voorval genoem.

“Die gesondheidsdepartement se onvermoë om te verseker dat noodvervoerdienste beskikbaar is, het inbreuk gemaak op die pasiënt se reg op menswaardigheid en toegang tot gesondheidsorg,” sê DA-raadslid, Gerhard Engelbrecht.

LEES OOK: Lack of ambulances blamed for nine Northern Cape deaths

In Maart vanjaar het 'n botsing tussen 'n minibustaxi en 'n mynvragmotor op die N1-hoofroete buite Hanover nege lewens geëis. Vier mense is op die toneel dood en vyf het in die hospitaal aan hul beserings beswyk.

Ambulanse moes vanaf Colesberg en Richmond gestuur word om die beseerdes na De Aar-hospitaal te vervoer.

“Week ná week word nuwe gruwels oor die tekort aan nooddiensvoertuie in die Noord-Kaap ontbloot,” sê Engelbrecht. “Dit is tyd dat die departement van gesondheid die monumentale ineenstorting van ambulansdienste in die provinsie ’n prioriteit maak.”

LEES OOK: Residents bemoan slow response of ambulances in Northern Cape

Intussen bly Noord-Kapenaars gefrustreerd oor die trae reaksie van nooddienste. SABC-nuus berig dat Kimberley met sy inwonertal van meer as 400 000 burgers slegs drie ambulanse vir die hele stad beskikbaar het.

Hoewel die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid verlede jaar aangekondig het dat sy dienslewering opgeknap gaan word, bly toeganklikheid tot gesondheidsdienste steeds ’n uitdaging vir inwoners.

Die Noord-Kaapse LUR vir Gesondheid, Maruping Lekwene, het in Oktober verlede jaar gesê dat sy departement, ondersteun deur die Nasionale Departement van Gesondheid, 350 nooddienspersoneel oor ’n tydperk gaan aanstel en dat 54 nooddiensvoertuie, waaronder 32 ambulanse, 20 vierwielaangedrewe ambulanse en twee pasiëntvervoerders aangeskaf gaan word.

Hy het gesê die verkryging van ambulanse en die aanstelling van personeel was om kwessies soos tweepersoon-ambulansspanne, die aantal operasionele ambulanse en reaksietye op noodoproepe aan te spreek.

LEES OOK: Northern Cape to improve emergency services

In Desember 2020 het die Noord-Kaapse Premier, Zamani Saul, altesame 65 bykomende ambulanse aan die departement oorhandig om dienslewering regoor die provinsie, maar veral in die landelike gebiede, te bespoedig.

Tydens die oorhandigingseremonie het hy toegegee dat sy kantoor klagtes ontvang oor ambulanse wat lank neem om op te daag wanneer hulle vir hulp ontbied word.

LEES OOK: NC invests in more ambulances

OFM-nuus het ’n media-navraag aan die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid en die SAMRK gestuur. Die berig sal opgedateer word sodra hul reaksie ontvang is.

OFM-nuus/Zenande Mpame en Bambatha Giko

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.