On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Oud-Springbok se aanvallers bly vir eers agter tralies

───   TSHEHLA KOTELI 10:02 Tue, 30 May 2023

Oud-Springbok se aanvallers bly vir eers agter tralies  | News Article
PHOTO: Facebook

Die verdagtes wat na bewering die Van Biljon-gesin op hul plaas in Oranjeville aangeval en beroof het, het gister (29/5) in die hof verskyn en bly in aanhouding.

Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die twee verdagtes, Khanye Muthi (32) en Latin Mofokeng (42), verskyn weer op 5 Junie in die Heilbron-landdroshof wanneer hulle vir borgtog aansoek doen.

Hulle word van huisroof en poging tot moord aangekla. Die polisie het vroeër berig dat ses gewapende mans by die Van Biljon-huis ingebreek het, waarna Lukas van Biljon, 'n voormalige Springbok-haker, verskeie kere met 'n mes gesteek is terwyl sy pa, André, in sy bors en hand geskiet is.

LEES OOK: Lukas van Biljon meer as 60 keer met mes gesteek

Twee verdagtes is ná die voorval in hegtenis geneem, nadat hulle by 'n padblokkade buite Viljoensdrif voorgekeer en in 'n ander voertuig probeer vlug het.

Na verneem word, is Lukas se kinders, wat tydens die rooftog in die huis was, met kabelbinders vasgebind. Die rowers het glo geld geëis en gedreig om die kinders seer te maak as hy nie aan hul eise toegee nie.

Sy jare lange vriend Johnny Burger, wat ook saam met hom rugby gespeel het, sê dit is 'n geweldige skok. "Ons oud-rugbyspelers bly vir altyd familie en kyk uit vir mekaar. Wanneer so iets gebeur, trek ons almal saam en besef jy hoe kort die lewe is."

LEES OOK: Voormalige Springbok-haker se vermeende aanvallers in hof verwag

Lukas se broer, Martin van Biljon, het Saterdag op Facebook geskryf “’n mens hoor van plaasaanvalle en plaasmoorde, maar dit word eers ’n werklikheid wanneer dit met jou eie mense gebeur.

"My hart is vandag gebreek. Hoe kan 'n mens so wreed wees? Ons mag nie haat en wraak neem nie, maar ek vind dit moeilik op hierdie Saterdag.

“Wat kan jy doen as jy wakker gemaak word met 'n 9-mm teen jou kop? Luke is vasgebind, herhaaldelik met 'n mes gesteek... geskop... gesê hulle gaan sy seun voor hom doodskiet as hy nie geld wil gee nie...”

"Dit is nie hoe ons veronderstel is om te lewe nie. Vrees elke dag om te weet enigiets kan om elke hoek en draai gebeur," skryf Johnny Burger op Facebook.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.