On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Lukas van Biljon meer as 60 keer met mes gesteek

───   HEIDRÈ MALGAS 13:14 Mon, 29 May 2023

Lukas van Biljon meer as 60 keer met mes gesteek | News Article

Die gewese Springbok-haker Lukas van Biljon het meer as 60 steekwonde opgedoen nadat hy en sy pa, André, op sy plaas net buite Oranjeville deur gewapende rowers aangeval is.

Sy jare lange vriend Johnny Burger wat ook saam met hom rugby gespeel het, sê dit is ’n geweldige skok.

“Ons oudrugbyspelers bly maar altyd ’n familie en kyk uit vir mekaar. As so iets gebeur trek ons almal weer bymekaar en dan besef ’n mens ook hoe kort die lewe is.”

OFM Nuus het vroeër berig die polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Loraine Earle, sê twee van die rowers is aangekeer en sal van huisroof en poging tot moord aangekla word. Die polisie is net ná middernag op 27 Mei 2023 na die Van Biljon-gesin se kleinhoewe by Oranjeville ontbied. Daar word vermoed dat ses gewapende mans in die voorval betrokke was.

LEES OOK: Voormalige Springbok-haker se vermeende aanvallers in hof verwag

André het probeer om die ander boere per radio te kontak toe hy van die rowers bewus geword het.

Burger sê die rowers het na Lukas se huis gegaan en hom wakker gemaak met ’n 9 mm-pistool teen sy kop. Lukas, André en ’n seun is met kabelbinders vasgemaak. Die rowers het geld geëis en gedreig om Lukas se kinders seer te maak as hy nie sou saamwerk nie. Al het Lukas nie baie geld in sy besit gehad nie, is hy herhaaldelik met die mes gesteek en gesny voordat André verskeie kere geskiet is. Die rowers het in Lukas se voertuig gevlug.

“Lukas het meer as 60 steekwonde opgedoen en sy toestand is stabiel, maar André se toestand is kritiek,” sê Burger.

Gelukkig kon Lukas se een seun sy ma bel wat die polisie verwittig het.

Die polisie het vinnig en doeltreffend opgetree, wat gelei het tot die twee mans se inhegtenisneming. Hulle is nie aan Lukas bekend nie en daar word vermoed dat hulle net geld wou steel, sê Burger.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.