Central SA
Curielaan in Bloemfontein eis nog lewens─── HEIDRÈ MALGAS 12:03 Mon, 26 Jun 2023

Curielaan in Bloemfontein is bekend vir die gereelde padongelukke wat daar voorkom en die kommer wat dit vir inwoners en beamptes veroorsaak.
Volgens VR Med se Jaco Kaalsen het die jongste voorval Sondagmiddag plaasgevind toe 'n botsing tussen 'n swaarvragmotor en twee stilstaande voertuie tragies die lewens van drie mense geeis het.
Die ongelukstoneel. FOTO: VR Med
“Terwyl nooddienste op die toneel was, het 'n passasier ernstige beserings opgedoen toe hy uit 'n [rollende] voertuig gegooi is.” Hy sê daar was die afgelope sewe dae vier ongelukke, waarvan een die lewe van die polisiewoordvoerder Thabo Covane se dogter geëis het.
LEES OOK: Accident claims Free State police spokesperson's daughter
Volgens berigte het 'n vragmotor se wa, wat glasbottels vervoer het, op die N1 afgebreek. Kollegas het gaan help. 'n Ander vragmotor het teen die groep gebots en drie mense wat by die stilstaande voertuie gestaan het, is dood.
Die ongelukstoneel. FOTO: VR Med
Die vragmotorbestuurder het ligte beserings opgedoen en Mangaung Brand- en Reddingspan moes spesialistetoerusting gebruik om die oorledenes onder die vragmotor uit te kry. Die oorsaak van die botsing word nou deur die polisie ondersoek.
Plaaslike inwoners het ernstige kommer oor die ongelukke in Curielaan uitgespreek en 'n oproep gedoen vir maatreëls om ongelukke te voorkom. Daar moet dringend iets gedoen word.
Kaalsen sê die grootste rede vir hierdie botsings in Curielaan is dat motoriste te vinnig ry en talle bestuurders wat risiko's neem.
Die ongelukstoneel. FOTO: VR Med
Die meeste ongelukke wat op die N1 plaasvind, is te wyte aan voertuie wat mense langs die pad op- of aflaai.
Die Bloemfontein-gemeenskap moet gesamentlik ’n poging aanwend om die uitdagings van verkeersveiligheid aan te spreek en die paaie vir almal veiliger te maak.
Organisasies soos VR Med, ER24, LifeEMS, FS EMS en Mangaung se Brand- en Reddingspan span saam op ongelukstonele om ondersteuning te bied. Dit is ook nodig dat die Bloemfontein-gemeenskap nou pogings moet aanwend om verkeersveiligheidskwessies aan te spreek.