Central SA
Bloulig-voorval: Kliënt eis geregtigheid, ook vir publiek─── HEIDRÈ MALGAS 08:08 Thu, 13 Jul 2023

Die prokureur wat een van die beweerde slagoffers van adjunkpresident Paul Mashatile se BBP-beskermingsdienste verteenwoordig, sê sy kliënt L’vaughn Fisher wil hê geregtigheid moet geskied – nie net vir homself nie, maar ook vir die breë publiek.
Volgens Daniel Eloff, Fisher se prokureur, is daar tans drie prosesse aan die gang. Eerstens is daar ’n ondersoek deur die Onafhanklike Ondersoekdirektoraat nadat die niewinsgewende organisasie Action Society ’n klag daar ingedien het; tweedens word die lede van dié spesifieke BBP-beskermingsdienste-eenheid strafregtelik ondersoek; en derdens dien Fisher ’n siviele eis teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens in vir skadevergoeding. Fisher het ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer by die Sandton-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Police say the process to track the victims of an alleged assault by police is under way. In a statement, the SAPS says the process began after they were made aware of a video currently circulating on social media.#MorningLive #SABCNews pic.twitter.com/9WKKarRuCt
— MorningLiveSABC (@MorningLiveSABC) July 4, 2023
Eloff sê Fisher is geskok en het emosionele trauma ervaar wat lank gaan neem om te herstel. Hulle meen die fokus moet val op toenemende polisiegeweld, na aanleiding van nóg ’n video op sosiale media van polisie wat ’n motoris aftrek omdat hy in die pad van ’n bloulig-konvooi kom.
LEES OOK: ‘Ek is nie oukei nie’ – slagoffer van BBP-blouligbrigade
Eloff sê daar is beeldmateriaal, asook ooggetuies, wat na vore getree het wat sy kliënt se weergawe steun.
“Ons is tans in die proses om al die beskikbare bewyse te versamel, insluitend getuieverklarings en videomateriaal. Regulasies vereis dat amptenare en polisiebeamptes hulle gedra op ’n wyse wat die publiek se vertroue in hulle instansies bewaar. Hulle mag nie onnodige risiko’s neem of onwettige optrede uitvoer nie. Vernaam mag hulle nie mense aanrand, hulle eiendom beskadig en optree soos hulle het nie,” sê Eloff.
Volgens Eloff voeg die betrokkenheid van ’n BBP-konvooi in hierdie saak ’n politieke dimensie toe. “Dit ontbloot die arrogansie wat soms teenwoordig is by mense in magtige posisies,” voer hy aan.
LEES OOK: AA calls for review of politicians' blue light brigades
Hy sê dit skep die indruk dat hulle hulself as bo die wet beskou, wat vertroue in demokratiese stelsels kan ondermyn. Die misbruik van mag, veral wanneer dit gekoppel is aan ’n gevoel van onaantasbaarheid, is ’n ernstige aangeleentheid wat dringend aangespreek moet word, aldus die prokureur.
Hy voeg by dat Fisher se veiligheid tans belangrik is en dat hulle werk met sekuriteitsdeskundiges en die relevante owerhede om seker te maak dat hy gedurende die regsproses beskerm word.
LEES OOK: Blue light driver sentenced to five years in prison
Die polisiebeamptes is reeds geskors, bevestig Eloff.
“Ons is besig om dit te oorweeg om vergoeding te soek vir Fisher. Die uiteindelike bedrag sal bepaal word deur faktore soos fisiese en sielkundige skade, mediese koste, verlies van inkomste, en ander verwante koste. Die aanmaningskrywe aan die minister van polisie is wel al ingedien,” sê hy.
Eloff sê ook dat publieke en media-aandag belangrik is in hierdie saak. Dit kan help om druk te plaas op die regstelsel om regverdigheid te verseker, en dit kan ook bewusmaking skep oor die kwessies van polisiegeweld en misbruik van mag.