Central SA
VF Plus eis beter bestuur van Matlosana se openbare werke─── 09:12 Mon, 07 Aug 2023
Die beweerde swak bestuur van die Matlosana-munisipaliteit se uitgebreide Openbare Werke-programme kry die skuld daarvoor dat ontevrede inwoners onlangs “vir die soveelste keer” by die munisipale kantore in Klerksdorp ingebars en dienste ontwrig het.
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) sê die ontevrede inwoners se ongelukkigheid spruit uit die ondoeltreffende implementering van die programme, swak kommunikasie en gebrekkige deelname van die publiek. Matlosana bedien die inwoners van Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein.
Die party het voorstelle vir ’n professionele bestuurs- en beleidsraamwerk vir die doeltreffende implementering van die programme by die speaker van die munisipale raad, Stella Mondlane, ingedien en versoek dat dit op die munisipale raad se agenda geplaas word sodat dit as munisipale beleid goedgekeur kan word.
Hierdie voorstelle volg op die soveelste voorval toe ontevrede inwoners by die munisipale kantore ingebars en dienste ontwrig het. 15 mans het amptenare aangerand en geïntimideer nadat hulle aangedring het om in diens geneem te word, maar moes hoor daar is geen vakante poste beskikbaar nie.
Agt van die 15 verdagtes het hulle by die polisie aangemeld en het Vrydag (4/8) in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen. Hulle is David Mbeloane (35), John Mokhele (38), Lehlohonolo Kgiba, Thabang Mpotle (36), Katiso Mokgatsi (37), Thabo Mafohla (39), Jabulane Sebeko (39), en Ephraim Mpedi (37). Hulle word van openbare geweld, betreding, opsetlike saakbeskadiging en intimidasie aangekla.
“Gemeenskappe het die indruk dat amptenare en raadslede die programme misbruik om vriende en familie te verryk.”
“Dit was glo weens hul ongelukkigheid met die implementering van die munisipaliteit se Openbare Werke-programme,” sê die VF Plus. “Verskeie bewerings van nepotisme en die onbillike bevoordeling van sekere woongebiede deur amptenare en raadslede is gemaak.”
“Die programme, wat veronderstel is om bestaande munisipale dienste aan te vul, is vir jare in omstredenheid gedompel en dit is duidelik dat die programme soos tans toegepas, geen werklike waarde tot dienslewering in die munisipaliteit lewer nie.
“Regeringsvoorskrifte word ook nie gevolg nie en swak kommunikasie lei tot onrealistiese verwagtinge van werksgeleenthede. Dit veroorsaak gereelde ontwrigting van munisipale dienste weens protesaksies indien daar nie aan die verwagtinge voldoen word nie.
“Gemeenskappe het die indruk dat amptenare en raadslede die programme misbruik om vriende en familie te verryk en dit laat inwoners vertroue in die plaaslike owerheid verloor.”
Die VF Plus se voorstel om hierdie gebreke “eens en vir altyd aan te spreek”, behels onder meer dat die projekbeplanning van die Openbare Werke-programme gekonsolideer word in ’n jaarlikse proses wat deel vorm van die munisipale begrotingsproses.
“Dit sal ook verseker dat die bestuur daarvan doeltreffend gemonitor kan word.”
“Die duidelike afbakening van die verantwoordelike munisipale departemente vir die onderskeie programme, asook die vasstelling van projekteikens en tydlyne, sal ook verseker dat die bestuur daarvan doeltreffend gemonitor kan word.”
Die party dring ook aan op ’n behoorlike kommunikasieproses waarin die onderskeie EPWP-projekte se diensleweringsdoelwitte duidelik aan die gemeenskap verduidelik word.

