Central SA
‘Steengroefdam in Bfn ’n dringende veiligheidsrisiko’─── TSHEHLA KOTELI 10:19 Sun, 13 Aug 2023
Die DA in die Vrystaat wil Maandag (14/8) met ’n optog die veiligheidsrisiko’s beklemtoon by die Witherow-steengroefdam in Heidedal, Bloemfontein.
Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, sê hulle hou die optog nadat verskeie mense slagoffers van die steengroefdam geword het. Die kommerwekkende reeks tragiese voorvalle wat ontvou het weens die gevaarlike toestande by die steengroef, kan nie langer geïgnoreer word nie.
“Die mees onlangse slagoffer, Dustin Khukari, het tragies die slagoffer van hierdie gevaarlike situasie geword. Dit dien as ’n pynlike herinnering aan die dringende behoefte aan optrede.”
Verlede jaar het twee jong mense van 17 en 18 jaar oud daar verdrink nadat hulle saam met twee vriende gaan swem het. Gemeenskapsaktivis Gregory Werner beweer die Minister van Minerale Hulpbronne en Energie het ’n petisie van die gemeenskap, sowel as hooggeplaaste SAPD- en NVG-amptenare, geïgnoreer.
Volgens ’n antwoord van die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), moet die polisie 'n saak aanhangig maak met relevante inligting en bewyse vir ’n omvattende begrip van die voorvalle wat by die steengroef plaasgevind het. Dit sal glo die implementering van toepaslike regstellende aksie moontlik maak.
“Die polisie moet dit ook oorweeg om 'n voldoeningskennisgewing aan die grondeienaar uit te reik, waarin die nodige stappe uiteengesit word wat geneem moet word om die risiko verbonde aan die dam uit te skakel of te verminder. Indien die grondeienaar versuim om aan die voldoeningskennisgewing te voldoen – indien daar bewyse van growwe nalatigheid is – moet die polisie dit oorweeg om die grondeienaar dienooreenkomstig aan te kla.”
Dit is alles ten spyte van ’n sluitingsertifikaat wat in Desember 2006 uitgereik is. Die Ministerie van Minerale Hulpbronne en Energie in die Nasionale Raad van Provinsies het die DA geantwoord en gesê die rehabilitasie van die terrein is voltooi en 'n sluitingsertifikaat is deur die departement uitgereik, wat aandui dat aan alle vereistes op daardie tydstip voldoen word.




