Central SA
Mediese hulp nodig ná swaar rook van brande by stortingsterrein─── HEIDRÈ MALGAS 12:41 Mon, 11 Sep 2023
"Munisipale infrastruktuur en voertuie is die naweek aan die brand gesteek wat veroorsaak het dat brande die hele naweek gewoed het."
Inwoners in die noorde van Bloemfontein se gesondheid was hierdie naweek onder druk weens die swaar rook as gevolg van die brande by die noordelike stortingsterrein.
Selmé Pretorius, 'n DA-raadslid vir wyk 44, sê sommige inwoners moes mediese hulp kry en selfs hul huise verlaat.
"Munisipale infrastruktuur en voertuie is hierdie naweek aan die brand gesteek, wat veroorsaak het dat brande die hele naweek gewoed het," sê Pretorius.
Sy sê 'n nuwe stortingsterreinbestuurspan, onder leiding van die hoof van die departement, Francois Nel, is aangestel en die metro is besig om meer materiaal te kry om die vlamme te dek sodat die brande vinniger onder beheer gebring kan word.
" 'n Nuwe stootskraper is in werking en volgens beplanning sal meer toerusting in die volgende drie maande afgelewer word," sê hy.
Die departement beplan om bykomende sekuriteit te ontplooi en dat sekuriteitsligte aangebring word.
Dié probleem word al jare lank ervaar.
'n Petisie, wat deur 675 mense geteken is, bevat ook bykomende inligting wat verwerk word en aan die nasionale departement oorhandig sal word.
Pretorius sê die DA hoop dat al hierdie stappe vrugte sal afwerp en oplossings vir die huidige situasie sal bied.

