Central SA
Fratsbrander eis oudonderwyseres (93) van Bloemfontein─── ELSABÉ DE JAGER 11:44 Mon, 18 Sep 2023
“In die parkeerterrein is sy deur reuse golwe getref en tot in die pad meegesleur.”
Die naam van ’n onderwyslegende wat in ’n tragiese fratsongeluk by Wildernis oorlede is, is bekend gemaak.
Jo Hartmann (93), afgetrede onderwyseres van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, het Saterdag gesterf nadat verwoestende branders haar tydens springgety oor ’n parkeerplek by Leentjiesklip in Wildernis weggespoel het. Die Wes-, Suid- en Oos-Kaapkus het die afgelope naweek groot skade ondervind vanweë rowwe seetoestande.

Groot skade is weens verwoestende brande gesaai by Leentjiesklip. Foto: Facebook
Hartman se seun Paul Louw beskryf die gebeure as steeds onwerklik. Sy ma, tot ses jaar gelede woonagtig in die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein, was saam met haar dogter, Ronell Lindemann, en vriende van George na Leentjiesklip om na die see te gaan kyk. In die parkeerterrein is sy deur die reuse golwe getref en tot in die pad meegesleur. Sy is onderweg na die hospitaal oorlede.

Jo Hartman was ’n mentor van formaat. Foto: George Herald
Johan Vorster, skoolhoof van Hoërskool Sentraal van 1985 tot 2016, onthou Hartman as ’n legendariese Wiskunde mentor.
Haar onderwysloopbaan by dié skool het gestrek van 1969 tot 1993. Haar professionaliteit en loopbaangerigtheid sal hom altyd bybly. Sy was ook vir baie jare betrokke by die Voortrekkerkommando, Werk en Wen. Oudkollegas koester kosbare herinneringe van haar.
OFM Nuus/Elsabé de Jager

