On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Kinderkanker: Goeie nuus, maar ook volop uitdagings

───   KAREN VAN DER BERG 15:23 Mon, 02 Oct 2023

Kinderkanker: Goeie nuus, maar ook volop uitdagings | News Article
Kinderkanker verskil in talle opsigte van dié by volwassenes. Foto ter illustrasie

“Kanker by kinders is nie voorkombaar nie. Dit is een van die grootste verskille van kanker by kinders.”

Daar is ’n verskil tussen kinderkanker en die soort kanker wat volwassenes kry. Maar albei is ewe skrikwekkend.

“Mense se ervaring van kanker lê dikwels by dit wat hulle weet van volwassenes se kanker,” sê dr. Liezl du Plessis, ’n pediatriese onkoloog van Kimberley. Die goeie nuus is, kinders hanteer die behandeling bietjie beter en is beslis meer veerkragtig. 

Dr. Liezl du Plessis, onkoloog van Kimberley. Foto verskaf

“Natuurlik probeer ons die hele kanker-ervaring ook met ’n bietjie pret en lag gepaard laat gaan,” sê sy. “Ons kan nie die hele tyd ons fokus daarop plaas dat dit lewensbedreigend is nie. Ons klem is eerder op die hoop en die goeie uitkoms.”

‘Kinderkanker nié aan die toeneem nie’

Hoewel daar nie in Suid-Afrika statistiek beskikbaar is nie, is daar in eerstewêreldse lande ’n 80% kans van oorlewing wat kinderkanker betref. Dit is goeie statistiek om aan vas te klou. “Ons wil graag in ons eie land ons fokuspunte verbeter om ook beter statistiek beskikbaar te stel,” sê Du Plessis.

Daar is geen aanduiding dat kanker onder kinders toeneem nie. “Miskien is daar nou ’n groter bewustheid van kanker, en kan dit lyk of dit toeneem.”

Nog iets waaroor mense dikwels wonder, is of hulle hulle kinders se leefstyl en eetgewoontes moet aanpas om kanker te voorkom. “Maar kanker by kinders is nie voorkombaar nie. Dit is een van die grootste verskille van kanker by kinders. 

Caylen Venter van Bloemfontein het ’n aggressiewe soort beenkanker. Foto verskaf

“Volwassenes se leefstyl, soos met drankgebruik en rook, kan tot kanker lei. Maar kinders, nee, dit gaan nie oor hulle leefstyl nie,” sê sy. En kinders moet kinders wees. Hulle moet buite speel en aan hulle omgewing en aan kieme blootgestel word.

Wat wel belangrik is, sê Du Plessis, is wanneer daar ’n bekommernis is oor ’n knop of ’n klier of iets soos langdurige koors wat onverklaarbaar is, kry ’n mediese opinie daaroor by ’n dokter of ’n spesialis. “Omdat kanker by kinders redelik skaars is, is dit nie noodwendig die eerste ding wat by iemand gaan opkom nie. Laat kyk daarna. Moet dit nie ignoreer nie.”

Daar is wel kankers wat algemener by kinders voorkom. Die algemeenste een is beenmurgkanker of leukemie. Dit kom veral onder voorskoolse kinders voor. Daarna is dit breingewasse en kanker in die niere. 

‘Dit is nooit maklik wanneer ’n kind sterf nie’

“By kinders praat ons van ebrioale weefsels wat oorbly. Dit verwys na die gespesialiseerde selle en strukture wat tydens die vroeë stadium van die fetus se ontwikkeling ontstaan. Hierdie weefsel groei tot verskeie organe. Soms gebeur dit dat die weefsels nie in volwasse organe groei nie, en dit kan kanker veroorsaak.”

Behandeling van kanker by kinders geskied uit sekere standaardbehandelings, wat gebaseer is op internasionale data. Onkoloë volg gewoonlik dieselfde roete, sê sy.

Moet sy haarself soms pantser teen die hartseer van haar werk?

“Ek dink dit gebeur mettertyd. Dit is iets wat ons al as mediese student leer, ’n siek kind is iets anders as ’n gesonde kind. Maar ons het kollegas wat mekaar verstaan. En as dit regtig baie erg raak, kan ons kundige mense gaan sien wat ons help om dit was ons ervaar, te verwerk.”

En soms is dit nodig.

Vroeë diagnose speel ’n sleutelrol. Foto: Freepik

Du Plessis sê ook, dit is nooit maklik wanneer ’n kind sterf nie. Nie net van kanker nie, maar op enige manier. Dit is nie net onkoloeë wat swaarkry nie. “My fokus is altyd op die kinders wat oorleef. Op die goeie uitkomste. 

“Maar natuurlik is ons nie onrealisties nie. Ek gee nie vals hoop nie. As daar wel ’n kans is dat ’n kind kan genees, dan gaan ons voluit. En dit bly die belangrikste.”

Sy vertel sy het ’n sagte plekkie vir tieners by wie kanker gediagnoseer word. Dit gebeur dikwels dat hierdie ouderdomsgroep bietjie oor die hoof gesien word, sê sy. Want ’n klein kind wat kanker kry, trek baie aandag, maar verstaan nog nie ’n diagnose nie. ’n Tiener verstaan en vóél.

‘Tieners moet ruimte gegun word om te treur oor dit wat hulle misloop’

“Hulle is nie meer klein kinders nie. Maar hulle is ook nie volwassenes nie. Hulle het hulle ouers by hulle nodig. Maar hulle moet ook ruimte gegun word om te treur oor dit wat hulle misloop: of dit nou hulle vriendekring is wat nie verstaan waardeur hulle gaan nie, of omdat hulle hare of selfs ’n ledemaat verloor.”

Dit is waarom Du Plessis ook opgewonde is oor Kansa se nuwe projek wat vir dié ouerdomsgroep gaan sorg.

• OFM stel in ’n reeks artikels ondersoek in oor wat kanker vir kinders behels. Lees ook ons onderhoud met Tiaan Venter, by wie se twaalfjarige seun kanker gediagnoseer is.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.